OUDTSHOORN NUUS - 'n Tegnikus van die polisie wat in die saak teen 'n verkeersbeampte van Prins Albert moes getuig was Maandag weer nie by die hof nie en die verhoor is weereens uitgestel.
Andrew Meintjies word daarvan aangekla dat hy rybewyse gemanipuleer het en ook rybewyse in ruil vir betaling uitgereik het.
Hy pleit onskuldig op al die aanklagte teen hom.
Die ondersoekbeampte, ao. Jason Pietersen, het die hof meegedeel dat die betrokke amptenaar weens die siekte van sy moeder nie hofverrigtinge kon bywoon nie.
Die saak is laat verlede jaar uitgestel omdat dieselfde amptenaar vir 'n maand op 'n kursus was.
Hy moet getuig oor videomateriaal wat op 'n CD geplaas is waaroor die verdediging nie gelukkig is nie.
Meintjies is in Maart 2016 op Drie Susters deur die Valke in hegtenis geneem en is daarna in die Prins Albert-landdroshof borgtog van R2 000 toegestaan.
Streeklanddros LA Wilkens het sy borgtog Maandag verleng en die saak tot 13 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'