Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ’n polisiegeneraal wat teregstaan op sewe aanklagte van crimen injuria, is Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof tot September uitgestel omdat haar regspan nog nie gereed was vir die verhoor om te begin nie.
Sandra Thema (57) word daarvan aangekla dat sy op 7 November 2016, tydens ’n besoek aan die Oudtshoorn-polisie-akademie sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor hul voorkoms gemaak het.
Sy het na bewering beledigende opmerkings gemaak oor hul kleredrag, gewig en velkleur onder toejuiging van die rekrute.
Landdros Graehymme Williams het dit Donderdag duidelik gestel dat die verdediging sy huis in orde moet kry en die saak tot 2 September uitgestel vir die finale vasstelling van ‘n verhoordatum.
Hy het ook ‘n versoek van die verdediging toegestaan dat Thema nie dié dag se hofverrigtinge hoef by te woon nie omdat sy in Pretoria woon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'