OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Lluwellyn Visagie, 'n man van Dysselsdorp wat van verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof na die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak tot 22 Julie uitgestel.
Visagie het glo op 27 Junie 2024 die 21-jarige klaer met sy vuiste in die gesig geslaan en verkrag terwyl sy erg onder die invloed van alkohol was.
Hy pleit onskuldig en sê dat hy met toestemming geslagsgemeenskap met die klaer gehad het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, vra die hof om Visagie se weergawe sowel as die getuienis van sy moeder te verwerp en hom op albei aanklagte skuldig te bevind.
Visagie se regsverteenwoordiger, Zak Lipschitz, vra die hof vir sy vryspraak omdat hy 'n eerlike getuie was en selfs tydens kruisondervraging deur die staat baie kalm was. Daarenteen was die klaer nie 'n geloofwaardige getuie nie.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’