OUDTSHOORN NUUS - Die moord van 27-jarige Duwaine Tiemie van Rosebank op Oudtshoorn het die gevolg gehad dat ‘n 23-jarige vrou in hegtenis geneem is deur die Oudtshoorn-polisie.
Volgens sers Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, is die vrou in hegtenis geneem na ‘n insident omstreeks 02:00 vanoggend, Saterdag 6 Januarie, in Rosevalley.
“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die twee in ‘n onderonsie betrokke was by ‘n woning toe die slagoffer twee steekwonde in sy rug opgedoen het. Hy het die toneel verlaat en ‘n paar meter verder van die toneel inmekaargesak. Hy is deur mediese personeel dood verklaar,” het Spies gesê.
Spies het bygevoeg dat die verdagte in polisie-aanhouding sal bly totdat sy op Maandag 8 Januarie in die Oudtshoorn-magistraatshof verskyn. Volgens hom sal ‘n nadoodse-ondersoek hierdie week plaasvind om die presiese oorsaak van Tiemie se dood te bepaal terwyl die polisie-ondersoek steeds voortduur.
Intussen het die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), onder leiding van gemeenskapsaktivis Leon Campher, vertel dat Tiemie ‘n 5-jarige kind agterlaat en hul misnoë oor die insident uitgespreek.
“Omstandighede rondom die moord is nog onbekend aan sy familie. Ek (Campher) vra weer ons gemeenskap om in te skakel by ons groep OCAC sodat ons saam misdaad kan hokslaan. Misdaad vind binne ons gemeenskap plaas en dis waar dit gestop moet word. Leiers/geestelike leiers, kom asseblief laat ons hande vat. Ek vra vir voorbidding vir Duwaine se familie en vriende en sal meer inligting met verloop van tyd verskaf,” het Campher se verklaring gelui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’