OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse biblioteekdienste het R8,5 miljoen beskikbaar gestel vir die oprigting en onderhoud van 'n biblioteek in Rose Valley (ook bekend as Riemvasmaak).
Inwoners het die goeie nuus verlede Donderdag 21 Junie, tydens 'n vergadering verneem.
Die vergadering is gehou as deel van 'n publieke deelnameproses om inwoners in te lig en insette te ontvang.
Volgens 'n mediaverklaring van Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, word die geld aan die munisipaliteit gegee en mag dit slegs vir die biblioteekprojek gebruik word. Die biblioteek sal dienste aan Rose Valley, Rosebank, Neppon en Toekomsrus lewer.
Die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, het die publiek toegespreek en gesê die sukses van die biblioteek is afhanklik van die publiek se ondersteuning van die projek.
Drie tot vyf gemeenskapslede moes tydens die vergadering gekies word om op die projekkomitee te dien. Die verkiesing van lede is egter uitgestel tot die volgende vergadering aangesien daar slegs 'n klein aantal inwoners was.
Die munisipaliteit nooi die publiek uit om die volgende vergadering by te woon. Die datum sal op 'n latere stadium verskaf word.
Die projekspan is voor, van links: (Biblioteekdienste) en Mbulelo Simema (Wes-Kaapse Biblioteekdienste). Agter, van links, is: Ben van Wyk (Eden-munisipaliteit), Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester), Jaco Eastes (bestuurder: stadsbeplanning) en Thomas Matthee (direkteur: gemeenskapsdienste).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'