OUDTSHOORN NUUS - Die rooi tapyt is Vrydag-oggend, 27 Junie, by Sacred Heart Primêr uitgerol vir die afskeidsgeselligheid van die skoolhoof, Godfrey McCallum, wat die tuig na 36 jaar neergelê het.
Hy was tien jaar aan die stuur van die skool en het Vrydag die skoolklok vir die laaste keer gelui.
Die hoofseun Waydon Anthony, en hoofdogter Payton Swartbooi, het met hul bedankingsboodskappe aan hul geliefde hoof, die hartsnare geroer.
"Meneer McCallum, u was meer as net 'n hoof. U was 'n leier, 'n mentor en gids. U het altyd met wysheid en geduld opgetree, selfs toe die kopieermasjien geweier het om te werk. U het nie net 'n skool bestuur nie, u het 'n familie gevorm. 'n Plek waar ons nie net Wiskunde en Afrikaans leer nie, maar ook respek, omgee en trots, en daarvoor sê ons baie dankie," het Anthony in sy toespraak gesê.
"Ons prinsipaal het ons gewys dat elke leerder belangrik is.
Van die rustige een in die hoek tot die een wat altyd vrae vra.
Dankie dat u ons altyd veilig laat voel het en ons skool 'n plek gemaak het waar ons trots is om te wees. Ons sal die lesse wat u ons geleer het saamneem waar ons ook al gaan," het Swartbooi in haar toespraak gesê.
McCallum het sy onderwys-loopbaan in 1966 in die Kaap begin en in later 'n betrekking by die Kairos Skool in Oudtshoorn gekry.
Agtien maande later is hy aangestel as hoof van die Rodewal Primêr in Schoemanshoek waar hy vir 18 jaar aan die stuur was.
Aan die begin van 2015 aanvaar hy die pos as skoolhoof by Kranshoek Primêr in Plettenbergbaai, maar ses maande later is hy aangestel as hoof van Sacred Heart Primêr.
McCallum het na sy BA- en honneursstudie, 'n meestersgraad in gespesialiseerde onderwys verwerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’