KAROO NUUS - Calitzdorp se riool-infrastruktuur, is besig om in duie te stort. So oortuigend klink die gemeenskapsaktivis, Kaki Willemse, wat ook lid van die DA se bestuur is.
Willemse kook oor: "Hier word absoluut niks gedoen aan die riool wat besig is om die dorp te oorspoel nie. Diegene wat dit moet regmaak het nie eens die nodige gereedskap om dit te doen nie. Die rioolwerke het in duie gestort. In elke liewe woonbuurt, van Bergsig, Die Oukas, Royal Heights en ook die dorp, is daar ’n straat vol riool. Die volgende reën mag dalk veroorsaak dat die riool nog in die riviere beland. Dan is ons ook deel van die cholera-statistiek. Hierdie is niks met politiek te doen nie, maar gebrekkige instandhouding van infrastruktuur. Die munisipaliteit moet nou ophou lieg. Hulle weet nie eens waar die riool oral uitloop nie.”
'n Inwoner van die dorp is ewe boos oor die situasie en het aan Oudtshoorn Courant vertel dat dit 'n ongesonde situasie vir haar en haar familie raak.
"As huisvrou wat met kos werk is dit ‘n stryd. Ek dink aan die kinders wat ‘n ompad moet loop daar by die skool om nie in die rioolslote te trap nie. Dit lyk of die nuwe munisipale-manne nie weet waar die rioolslote loop nie. Hulle het net kom loer toe ry hulle weer. Waar moet ons nou nog gaan kla?” vra 'n ontstoke Maria Jelander.
Petrus Roodman, dorpsbestuurder van Calitzdorp het gesê dat 'n pomp gebreek het en is in die proses om herstel te word.
Volgens Wilmien Viljoen, woordvoerder van die munisipaliteit, besef die Kannaland-munisipaliteit die omvang van die probleem.
"In baie gevalle was dit die pompe. Ons is tans besig om die probleem aan te spreek.”
Riool in die dorpsgebied van Calitzdorp.
Riool in Bergsig met die skool in die agtergrond. Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’