Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Calitzdorp het onlangs te velde getrek oor die rioolprobleem wat tans in die dorp heers.
Oudtshoorn Courant het die week berig dat Kaki Willemse, ‘n lid van die DA se bestuur en gemeenskapsaktivis, gesê het dat die munisipaliteit nie optree teen die probleem nie.
Wilmie Viljoen en Petrus Roodman, beide van die Kannaland-munisipaliteit, het egter per navraag bevestig dat die munisipaliteit probleme met die pompe gehad het, maar dat die munisipaliteit besig is om die probleem op te los.
Hendrik Barnard, munisipale bestuurder, het die week bygevoeg dat Calitzdorp se area uit septiese tenks bestaan, en nie aan die rioolwerke gekoppel is nie.
“Waar riool wel dus in die straat uitloop in die dorp area, sal dit ‘n septiese tenk wees wat oorvol is, wat moontlik weens die konstante reën die laaste ruk kan wees. Die munisipaliteit het die week ’n kennisgewing geplaas.”
Barnard sê hy wil ook inwoners gerusstel dat daar nie cholera in die water is nie. Die nuutste wateruitslae, wat in Oudtshoorn Courant se besit is, dui die suiwerheid van die water aan.
Hy het verder in die verklaring gesê dat die munisipaliteit nie rioolslote as deel van die rioolnetwerk het nie.
“Alle riool binne die Bergsig-area is binne die geslote pyplyn. Daar is wel plekke wat soms oop is waar diefstal en vandalisme plaasvind. Ons versoek dus die gemeenskap om die beskadiging en diefstal van munisipale bates aan te meld by die naaste munisipale kantoor. Waar nie-beplande riooloorstromings wel plaasvind, is die munisipaliteit in die proses om daardie areas te rehabiliteer.”
Vorige artikel: Rioolwerke in Calitzdorp ‘stort in duie’
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’