PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albert Vastrappers se o.14's is een van drie rieldansgroepe wat eerskomende Saterdagaand die ATKV-Rieldans se eindstryd in die Paarl open. Hulle was verlede jaar die nasionale kampioene in dié ouderdomsgroep en kan dus nie vanjaar weer deelneem nie, slegs optree.
Die hersiene reëls van die kompetisie bepaal dat die wenners in dié kategorieë nie in die daaropvolgende jaar aan die kompetisie kan deelneem nie, om almal 'n kans te gee.
Dié gewilde tradisionele danskompetisie vorm vanjaar deel van die ATKV se nuwe fees, Onse Fees, van 6 tot 8 Desember by die Taalmonument. Vanjaar is dit 'n uitgebreide byeenkoms waaraan sangers, rymkletsers en musici gaan deelneem.
Prins Albert se á capella sangroep, die Unity Male Voices, tree ook by die Onse Fees op, en die Groet-is-'n-moet-ete en -verskeidenheidskonsert wat hier gehou gaan word, is vernoem na die Groet-is-'n-moet-saameet-saamtrek wat sedert 2018 op Prins Albert gehou word.
In die rieldanskompetisie gaan nege spanne in onderskeidelik die o.14-, o.20- en senior afdelings meeding.
Luidens 'n verklaring van die ATKV is die jaarlikse nasionale rieldansnaweek in Desember uitgebrei omdat die rieldans as kunsvorm voortaan op gelyke vlak gaan meeding met alle ander kunsvorme wat onder die ATKV se kultuurafdeling ressorteer.
Verlede jaar se rieldanskampioene is deel van die verskeidenheidskonsert op 6 Desember, wat Maleier-, Griekwa- en tradisionele Afrika-koormusiek, asook Boereorkesmusiek insluit.
Die Prins Albert Vastrappers tree ook, ná die kompetisie, saam met die ander 2018-kampioene op in 'n musikale blyspel, Vir die liefde van ...
Ander musieksterre hierin is die Maleierkoor Young Men's Club, Hemelbesem, Die Hooflig, Whaden Johannes, Jodi Jantjies en Joshua na die Reën.
Volgens Denise Ohlson, een van die stigters van die Prins Albert Vastrappers, gaan ouers en belangstellendes van die dorp saam Paarl toe. "Dis 'n hele vrolike gedoente. Daar word hare gevleg en hare geskeer en nuwe klere gemaak. Dis 'n hele karnaval hier!"
Kaartjies vir die fees kan by Computicket gekoop word. Besoek die ATKV-webtuiste vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'