OUDTSHOORN NUUS - Die Bongolethu Small Farmers Association het Saterdag 'n reuseskenking van die South African Water Warriors ontvang.
'n Vragmotor en voertuie met meer as 50 vrywilligers het Saterdag vanuit die Kaap en uit George by die Kansa-krale buite Oudtshoorn bymekaargekom om die skenking aan die kleinboere van Oudtshoorn te oorhandig.
Die Bongolethu Small Farmers Association is in Oktober gestig met die doel om jong, opkomende boere in die omgewing te help. Hulle het ook as lid van Agri Wes-Kaap aangesluit.
Deon Smit, stigter van Water Warriors, sê hulle het kruideniersware en skoonmaakmiddels vir ongeveer 40 huisgesinne gebring, veevoer en buitebande vir die kleinboere se bakkies, klere en geskenke vir die kinders.
"Ons het gedink omdat dit so na aan Kersfees is sal ons vir die kinders ook ietsie bysit."
Smit sê die vrywilligers het hard gewerk om al die skenkings bymekaar te kry.
"Dis ons laaste uitreik vir die jaar. Dit was 'n harde jaar vir baie mense en ons hoop met die skenking kan ons die nood vir die mense verminder."
Albert Nokole, voorsitter van die boerevereniging sê, die kleinboere is geweldig dankbaar vir die skenking.
"Die skenkings help ongelooflik baie, nie net die boere nie, maar ook hulle gesinne. Baie van hulle het vreeslik swaar gekry tydens die inperking en baie wat as ekstra inkomste boer het hul werk weens Covid-19 verloor wat stremming op hul boerdery geplaas het."
Johnson Mslane, een van die kleinboere, sê hy boer reeds meer as 20 jaar met bokke, skape en varke en dit is die eerste keer dat hy 'n skenking kry.
"Toe ek sien wat die mense hier aanbring moes ek keer dat my hart nie by my mond uitspring nie. Ek was stomgeslaan. Hulle het nie net ons boere gehelp nie, maar ook ons families."
Louise van Eyssen, een van die Water Warriors-vrywilligers het gesê dat al die vrywilligers het op hul eie onkoste gekom om te help.
"Die mense gee uit hulle eie sakke, kry skenkings by hul werksplekke en vra by besighede.
"Als wat ons hier ingesamel het, het ons in minder as drie weke gedoen. Dit maak mens se hart bly as mens die ontvangers se gesigte sien en jy weet dadelik dit is hoe dankbaarheid lyk."
Die kinders het ook Kersgeskenke gekry.
'n Vragmotor vol water word afgelaai.
Vrywilligers besig om die skenkings af te laai. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'