OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat restaurante in Oudtshoorn onwillig is om tot 'n projek te verbind wat die straatkindprobleem aanspreek.
Dit is die afleiding wat gemaak kan word as daar in ag geneem word dat slegs drie restaurante in die hele Oudtshoorn en omgewing tans aan die StreetSmart-projek deelneem.
Volgens Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel gaan dit sy verstand te bowe dat restauranteienaars dag na dag oor straatkinders kla, maar geen vinger verroer om tot 'n oplossing by te dra nie.
"Ek kan nie verstaan dat daar na drie jaar se smeek en soebat, steeds slegs drie restaurante is wat aan die StreetSmart-projek deelneem nie.
"Die groot ironie is dat twee van die restaurante buite die dorp is en glad nie eers deur die straatkindprobleem benadeel word nie."
Volgens Els moet ten minste vyf restaurante op die dorp aan die projek deelneem voordat StreetSmart gelde oorbetaal.
"Op die oomblik is dit net die restaurante by Turnberry Hotel, Boulders Lodge & Spa en Karusa wat deel is van StreetSmart.
"Ons het spesiale vertoë aan StreetSmart gerig om die geld wat die afgelope jaar deur die drie restaurante ingesamel is, oor te betaal."
'n Bedrag van R25 000 is twee weke gelede deur StreetSmart aan die St. Francis Invalsentrum geskenk om vir hulle projekte ten opsigte van straatkinders aan te wend.
As die invalsentrum nie die geld ontvang het nie sou daar waarskynlik geen heenkome vir die kinders tydens Desember gewees het nie.
"As net drie restaurante daarin kon slaag om met skamele vyfrandbydraes van gaste, 'n bedrag van R25 000 in te samel, dink net watter reusebedrag beskikbaar kan wees as al die restaurante in Oudtshoorn deelneem," sê Els.
Hy voeg by dat verskeie restaurante in die verlede aangedui het dat hulle die projek sal ondersteun, maar tot dusver skitter hulle in hul afwesigheid.
"Dit kos die restaurant absoluut niks. Al wat hulle moet doen is om gaste te vra om R5 per rekening by te voeg. Alle administratiewe kostes word deur StreetSmart gedra."
"Ek is regtig moedeloos. As voormalige voorsitter van Oudtshoorn en De Rust-toerisme sowel as die Oudtshoorn-besigheidskamer, was die straatkindprobleem chronies op die agenda.
"Hier is nou 'n daadwerklike projek om die probleem te bekamp en restaurante draai eenvoudig 'n dowe oor.
"Ek voel so sterk oor die saak dat ek dink dit het tyd geword dat gaste restaurante onder druk moet begin plaas om aan die projek deel te neem."
StreetSmart wat in Kaapstad ontstaan het, het vanjaar landwyd R1,12 miljoen aan straatkindprojekte bewillig.
Vir meer inligting oor StreetSmart SA: Telefonies 021 447 3227, per epos by info@streetsmartsa.org.za of besoek www.streetsmartsa.org.za.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'