OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor is in die proses om hul eie resepteboek, Flavours of the Klein Karoo, te publiseer en hulle nooi enigiemand wat belangstel om hiervan deel te wees.
Volgens Corleen Barnard, toerismebestuurder, is kos die een ding wat almal altyd bymekaarbring.
"Kos verteenwoordig familie, kultuur, gemeenskap en eenheid. Ons hoop is dat die boek onder geliefdes gedeel kan word. Die idee is om eg Karoo-resepte uit die Karoo te deel," verduidelik sy.
Barnard sê enigiemand wat 'n staaltjie oor die Karoo of 'n resep wil deel is welkom om 'n bydrae te maak.
"Die idee is dat die resepte en stories eie aan die Karoo moet wees. Enigiemand met 'n band in die Karoo of wat hier woon kan iets stuur."
Volgens Barnard is die doel van die inisiatief om geld te in vir die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor aangesien hulle 'n nie-winsgewende organisasie is.
"Dit sal met toekomstige bemarking van ons streek help en ook 'n hupstoot na Covid gee. Boonop sal 20% van alle winste van die boek gedurende die eerste jaar, vir kos vir plaaslike skuilings en sopkombuise gaan. Enigiemand kan deel wees van hierdie wonderlike storie-vertel-styl-resepteboek en 'n verskil maak terwyl jy dit doen.
Vereistes
- Resepte moet uniek aan die Karoo-streek wees, hetsy dit bestanddele is, kultureel, deur erfenis, insluitend plaaslike produkte en flora ensovoorts.
- Dit moet geskik wees vir enige vaardigheidsvlak.
- Die resep moet uit gedetailleerde, getoetste instruksies en verkrygbare bestanddele bestaan.
- Die resep kan 'n variasie van 'n ander gepubliseerde resep wees, maar plagiaat mag nie gepleeg word nie.
- Stuur 'n goeie kwaliteit foto van die gereg vir druk - geen voorraadfoto's (stock photos) word toegelaat nie.
- Stuur jou volle naam en 'n profielfoto saam met jou resep, of jy kan anoniem bly as jy wil.
- Alle voorleggings moet 'n kort motivering by die resep oor hoekom dit vir jou spesiaal is. Jy kan soveel resepte instuur as wat jy wil, vir enige tipe kos of drank; soet, sout, konfyt, skemerkelkies of selfs troeteldierbederfies.
- Probeer om te fokus op plaaslike/inheemse bestanddele soos volstruis, lam, vye, steenvrugte, druiwe, granate, olywe, flora, ens.
Inskrywings
Alle voorleggings sal outomaties in 'n gelukstrekking deelneem, en een gelukkige wenner sal 'n toerisme-geborgde prys ter waarde van R10 000 ontvang.
Hierdie trekking sal by die boekbekendstelling plaasvind. Die datum word binnekort aangekondig.
Inskrywings sluit op 30 Junie. Inskrywings kan per e-pos gestuur word aan oudtshoornrecipes@gmail.com of direk by die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor ingehandig word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'