KANNALAND NUUS - Die departement van plaaslike regering het reeds begin om hulp te verleen aan die Kannaland-munisipaliteit sodat die waternood wat dreig opgelos kan word.
So lui 'n verklaring van die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, in reaksie op die situasie wat tans in Kannaland heers.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat dele van Kannaland reeds 'n geruime tyd feitlik geen water het nie en dat peperduur kragopwekkers nodig is om water na reservoirs te pomp. Volgens die Kannaland-munisipaliteit word hul vermoë om water na die reservoirs te pomp, deur beurtkrag verswak.
Wouter Kriel, woordvoerder van Bredell se kantoor, het in die verklaring gesê dat die herstel van infrastruktuur, asook dienslewering prioriteit geniet.
"Ingenieurs sal na die rampgeteisterde gebied gestuur word, maar sal die nodige finansiële ondersteuning nie agterweë bly nie." Hy sê dat Ladismith, Zoar en Calitzdorp reeds geassesseer is en dat hulle daadwerklike hulp met watervoorsiening sal ontvang.
Volgens hom sluit die ingryping van die regering die volgende in:
- Daadwerklike ondersteuning deur ingenieurs van die departement om sodoende die munisipaliteit se tegniese span by te staan.
- Die gebruik van geohidroloë vir die soeke na ondergrondse water.
- Reënwater filtreer vir gebruik.
- Die verkryging van kragopwekkers om deurlopend diens aan inwoners te verskaf tydens beurtkrag.
- Finansiële ondersteuning om watergehalte te toets en.
- Vaardigheidsopleiding in die verkryging van ondergrondse water en die suiwering daarvan te bestuur.
Volgens Kriel het die munisipaliteit en die departement 'n werksverhouding ontwikkel wat gefokus het op verskeie inisiatiewe, wat insluit:
- Vestiging van kommunikasieplatforms met gemeenskaps- en sakebelanghebbendes asook tydige kommunikasie met betrekking tot potensiële diensleweringsonderbrekings.
- Noodherstelwerk aan waterleweringsinfrastruktuur.
- Operasionalisering van kragopwekkers by sleutelpunte in die afleweringsiklus.
- Identifiseer korttermynaksies om onmiddellike uitdagings die hoof te bied.
"Die departement is in die proses om 'n uitgebreide ondersteuningsplan saam met die munisipaliteit te ontwikkel."
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'