OUDTSHOORN NUUS - Hou jou geld in jou dorp so veel as wat jy kan. Dit is die pleidooi wat verskeie sakemense sowel as die Oudtshoorn-besigheidskamer tans aan inwoners rig.
Met die oopstelling van meer besighede met die aanvang van vlak 3 inperking word daar gehoop dat die ekonomie stadig maar seker weer aan die gang gaan kom.
Tydens onderhoude met sakemense hierdie week was dit duidelik dat oorlewing nog 'n lang opdraande stryd gaan wees. "Onthou, baie van ons wat reserwes gehad het, het dit nou uitgeput en die van ons wat nie reserwes gehad het nie, is nou in die skuld gedompel en ons moet ons daaruit werk," het een van die besigheidseienaars gesê.
André van Greunen wat reeds 42 jaar op Oudtshoorn in besighede betrokke is het volle vertroue in die lojaliteit van Oudtshoorn se mense. "Ek kan nie verduidelik hoe lojaal die dorp se mense is nie. As jy goeie diens lewer en nie buitensporige pryse vra nie, word jy oorweldigend ondersteun."
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het gesê hulle is besig met sinvolle gesprekke met die munisipaliteit, die burgemeester en die waarnemende munisipale bestuurder om te verseker dat besighede op Oudtshoorn ondersteun word op die pad wat voorlê.
"Ons is nou werklik op 'n pad van heropbou, en daarvoor het ons elke rolspeler, elke diensverskaffer en elke verbruiker se samewerking nodig om 'n gemeenskaplike doel na te streef."
Daar is waarskynlik geen besigheid in die dorp wat nie deur die inperkings-maatreëls benadeel is nie. Sommige is so erg getref dat hulle waarskynlik vir maande nog nie sal kan oopmaak nie en sommige gaan glad nie weer oopmaak nie.
Tydens 'n gesprek met Vorster en sy vennoot, Johan van Heerden, oor hulle vier ondernemings het hulle gesê dat dit nou tyd is vir kritiese heroorweging. "Ons moet kyk na wie ons kliënte is, wat hulle behoeftes is en wat ons aanbied. Niks is meer vanselfsprekend nie."
Besigheidseienaars stem oor een ding saam; die oorlewing en heropbou van die dorp se ekonomie is in die hande van elke inwoner wat hom verbind om plaaslik te spandeer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'