OUDTSHOORN NUUS - Na aanleiding van verskeie navrae oor leiwater het raadslid Johan Fourie, voorsitter van tegniese dienste, die week verduidelik dat leiwater nie lukraak aan die dorp toegedien word nie.
Volgens Fourie was die water wat die afgelope naweek in leiwatervore geloop het, water wat nie in die Raubenheimerdam opgevang word nie en kom dit van die Swartberge af uit die omgewing van De Hoek en De Kombuys.
Volgens hom het net sommige huiseienaars in die dorp serwituutregte en leiwatervore.
"Vroeër jare was Oudtshoorn een groot plaas en het die vore deur die plaas geloop. Die dorpe is mettertyd in erwe verdeel wat veroorsaak dat net sekere erwe vore het vir leiwater."
Leiwater word egter net toegedien as die Raubenheimerdam bo 64% is.
"As die dam tussen 30 en 64%, soos dit tans is, besluit die munisipaliteit of die dorp leiwater kan kry. In die geval is daar besluit om nie loslatings toe te laat nie omdat die watervlak nog bietjie onstabiel is."
Fourie verduidelik dat Schoemanshoek, Oudtshoorn, Buffelsdrift, Welgeluk en Onverwacht die enigste gebiede is wat uit die Raubenheimerdam leiwater ontvang.
"By die Kango-aftreeoord is twee sluise wat oopgemaak word wat water aan die oostelike en westelike takke voorsien."
Fourie sê verder inwoners behoort op hul rekeninge te kan sien of hulle veronderstel is om leiwater te kry of nie.
"Slegs huiseienaars met serwituutregte kry leiwater en hulle betaal daarvoor. Dit is ongelukkig ook so dat daar weens die verbreking van bouregulasies vore is wat toegebou is en sluise wat aan die verkeerde kant van 'n heining of muur sit.
Dit is egter elke huiseienaar se verantwoordelikheid om te sorg dat hul sluise oopgemaak word as dit hul leiwaterbeurt is en hul vore skoon is om die leiwater te kan kry."
Volgens hom het die munisipaliteit streng ordonnansies oor water en kan huiseienaars met R1 000 beboet word as die eienaar nalatig is en water in die straat laat afloop en R500 beboet word as die vore nie skoongehou word nie. Volgens hom is daar werkers wat verantwoordelik is vir die inspeksie van vore.
Enigiemand met navrae oor leiwater kan Fourie by 082 771 6580l.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'