OUDTSHOORN NUUS - Veronica Michaels, inkomende proporsionele Saamstaan Suid-Afrika-raadslid, se nuwe spreekwoordelike besem vee alreeds skoon in die gemeenskap; 'n week voordat sy amptelik met die volgende geskeduleerde raadsvergadering op 29 Mei, seremonieel ingehuldig word.
Hierdie verwikkelinge volg nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verlede week bevestig het dat raadslid Mlandeli Nyuka, van Saamstaan Suid-Afrika-party, nie meer 'n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit is nie.
Sy lidmaatskap is reeds in April verlede jaar beëindig.
Michaels het Dinsdag 16 Mei, by Cosmetic-winkel in die middedorp, 20 splinternuwe komberse ter waarde van R8 500 aan begunstigdes, wat dit volgens haar, werklik nodig net, oorhandig. Die komberse is deur Cosmetic aan Michaels geskenk.
"Vir my gaan dit net oor ons mense daar buite, dit gaan nie oor die geld wat ek nou gaan verdien nie. Op hierdie stadium gaan ek nie beloftes maak nie, want ons leuse is, "Ons wil sien dit wat ons sê." So ek wil wys wat ek doen. Ek gaan nie 'n change maak nie, ek wil die change wees," het 'n vasberade Michaels gesê.
By watter alliansie Saamstaan Suid-Afrika hom volgende week tydens of voor die inhuldiging gaan aansluit, wou Michaels nie die aap uit die mou laat nie. Op die oomblik het die DA-alliansie beheer in die raadsaal met 12 setels.
Die geskorste Nyuka het destyds sy setel by die DA-alliansie gevoeg wat dit 13 gemaak het, die meerderheid in die munisipale raad. Die ANC-alliansie het ook tans 12 setels. Michaels se besluit by wie sy haar gaan skaar, sal dus deurslaggewend wees om te bepaal watter alliansie die kitaar in Oudtshoorn sal slaan. In kort kan Oudtshoorn dalk binne die volgende twee weke weereens 'n nuwe burgemeester of ondermeester te wagte wees.
In die politieke wêreld is niks egter gewaarborg nie en letterlik enige iets is moontlik.
"Kyk, op hierdie stadium kan ek nog niks sê nie. Ons het met niemand nog gepraat of onderhandel nie. Sodra ons, ons eie huis skoongemaak het, sal ons voor die inswering ons besluit bekendmaak. Vir ons party gaan dit oor samewerking, as die fondasie nie stewig is nie, gaan die dak inmekaarval."
Michaels en haar man, Schapiro Michaels, ook 'n Saamstaan Suid-Afrika lid, is reeds sewe jaar getroud met drie kinders. Wat ervaring in die politieke arena betref sê Michaels dat sy voorheen op 'n kontrakbasis in die destydse burgemeester, Vlancio Donson (Icosa), se kantoor gewerk het.
Sy was ook onlangs as munisipale EWP-kontrakwerker werksaam. Dié kontrak was vir vier maande, waarvan sy slegs twee maande voltooi het, omdat sy bedank het om die pos van Saamstaan Suid-Afrika-raadslid te aanvaar.
Behalwe vir haar politieke ambisies, is haar ander passie verpleegkunde.
"Ek sien verskriklik uit na die nuwe uitdaging en ek wil die gemeenskap die versekering gee dat ek net my beste vir hulle sal gee."
Vorige artikel: Nuwe raadslid vir Saamstaan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’