OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat van verkragting, aanranding om ernstig te beseer en twee aanklagte van gewone aanranding aangekla word, sloer omdat die klaagster weens gesondheidsredes, verlede Woensdag nie die hofverrigtinge kon bywoon nie.
‘n Lasbrief vir die klaagster se inhegtenisneming is tydens ‘n vorige verskyning van die beskuldigde uitgereik.
Vir haar afwesigheid verlede week het sy ‘n doktersbrief vir haar siekte aan die hof voorgelê, waarna die saak tot 31 Augustus uitgestel is.
Die verdagte het nog nie gepleit nie en daarom mag sy naam nog nie gepubliseer word nie.
Hy word daarvan aangekla dat hy op 2 Oktober 2021 die 39-jarige klaer in ‘n huis in Dassieweg, Bridgton, verkrag, op die grond neergegooi en op haar kop getrap het.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy op 29 September 2021 ‘n 16-jarige meisie met ‘n stukkie hout geslaan en ‘n vyfjarige seun met die plat hand geslaan en teen ‘n hangkas gegooi het.
Die verdagte se borgtog en borgtogvoorwaardes is weer deur streeklanddros, Daniel Boks verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'