OUDTSHOORN NUUS - Die aanbring van sekuriteitskameras in Oudtshoorn se sakekern en woongebiede kry nuwe momentum nadat die munisipaliteit R2 miljoen vir die geslote kringtelevisie (GKTV)-kameraprojek bewillig het.
Ian Avontuur, direkteur van gemeenskapsdienste, het tydens die laaste GPF-vergadering bevestig dat misdaadbrandpunte reeds saam met sekuriteitsmaatskappye geïdentifiseer is en dat die beheerkamer vir 24-uur monitering uitgebrei sal word.
Intussen is verskeie kameras in die dorp se sakekern buite werking weens 'n dispuut oor instandhouding. AfriForum dring daarop aan dat hierdie kameras onmiddellik weer geaktiveer word om beeldmateriaal vir ondersoeke te verseker. Die munisipaliteit beplan om die tender vir die projek in Oktober 2025 te adverteer, ná konsultasie met rolspelers soos die polisie, GPF en plaaslike sekuriteitsmaatskappye.
Donovan Kleinhans van Oudtshoorn-AfriForum het bevestig dat daar reeds 'n gesamentlike vergadering oor die GKTV-kameraprojek plaasgevind het.
Hy sê AfriForum verkies dat beeld-materiaal direk aan alle rolspelers beskikbaar gestel word eerder as om dit deur 'n duur munisipale beheerkamer te bestuur.
Fanie Erasmus, voorsitter van Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), noem dat Harry Coetzee die volgende noodsaaklike punte aan die GPF uitgewys het:
Hoë verkeerskruisings, publieke parke, naby banke en OTM's, woongebiede veral by straathoeke en opritte, openbare publieke ruimtes of vergaderplekke, skoolaflaaipunte, brûe, tonnels en oorbrûe."
Hy het beklemtoon dat 'n helder en duidelike beeld, beligting, privaatheid, betroubare en vaste kragvoorsiening by die plasing van kameras in ag geneem moet word.
Ten slotte noem Erasmus dat daar sedert 2022 pogings aangewend is om Oudtshoorn-munisipaliteit te oortuig om aandag te gee aan hierdie kwessie.
"Uit notules van maandelikse vergaderings van die GPF Sektor 3 blyk vele geskrewe versoeke aan die owerhede onbeantwoord.
Die bywoning van GPF vergaderings deur die verantwoordelike amptenare van die Oudtshoorn-munisipaliteit en staatsdepartemente om kennis te neem van realistiese en nuwe kriminele tendense is ook nie na wense nie.
Die toekenning van R2 miljoen vir die aanwending van GKTV kameras in die huidige boekjaar mag nie meer die besluit van 'n munisipale amptenaar wees nie, maar met volle konsultasie van alle belanghebbendes met die ontplooiing daarvan.
Die huidige ontplooiing van be-staande kameras waarvan twee uit 14 operasioneel is, verdien die aandag van die burgemeester.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’