Gallery
CALITZDORP NUUS - Die vierde Art on Track-kunsuitstalling en -kompetisie het Vrydagaand by die Calitzdorp-stasie se ruim goedereloods geopen. Vanjaar se tema is “Water”. Die uitstalling duur tot Sondag 12 Augustus. “Sowat 60 inskrywings is ontvang, maar nie al die werke het betyds opgedaag nie,” sê Sandy Chaitowitz, kunstenaar wat Art on Track organiseer.
Die 54 werke wat wel as deel van die kompetisie uitgestal word, is wyd uiteenlopend wat tema, medium, kwaliteit en professionaliteit betref. Bekende name is onder die inskrywings, maar sommige van die onbekende kunstenaars se werke het ook besonder verras.
Lizel van Dam se yslike vis van lap, getiteld “Vis van Dam” is beslis die inskrywing wat met die opening die meeste belangstelling ontlok het.
Marcia Vermaak, voorheen ‘n stelbouer wat Calitzdorp toe verhuis het om nader aan die natuur te leef, se manjifieke meermin, wat van herwinde plastiek vir die Winterfees gebou is, is ‘n besondere teenwoordigheid. Vermaak se werke wat vir die kompetisie ingeskryf is, sluit “Angry Fish” en “Toyi Toyi” in. Van haar vroeër werke, soos die “Melting Men” en drie van haar maskers uit die “AfrikaMask”-reeks, vorm deel van die uitstalling.
Ander bekende name sluit onder andere Doris Brand, Marinda Combrinck, Ryno Cilliers, Irma Welman, Chris Buchner, en Jay Gerber in.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'