KANNALAND NUUS - 'n Raadsvergadering van die Kannaland-munisipaliteit wat in die plaaslike biblioteeksaal gehou is, het Maandag in chaos geëindig, nadat lede van die publiek die vergadering binnegestorm het.
Dit het oor die naweek algemeen bekend geword dat die ANC se twee raadslede, Nicky Valentyn en Leonie Stuurman, skorsingsbriewe van hul party ontvang het.
Valentyn en Stuurman is bykans 'n week gelede as onderskeidelik burgemeester en onderburgemeester verkies na 'n suksesvolle mosie van wantroue teen Jeffrey Donson (Icosa) nadat dit bekendgemaak is dat hy in 2008 aan verkragting van 'n minderjarige skuldig bevind is.
Die nuutverkose raad, met Valentyn en Stuurman steeds in hul verkose stoele ondanks dié skorsingbriewe, het vergader om glo hul skorsings te bespreek.
Terwyl die raad in sitting was het lede van Icosa die vergadering ontwrig en die vergadering onwettig verklaar omdat Valentyn en Stuurman tegnies deur die ANC geskors is.
Pastoor Abe Delport van die DA het gesê dat hy bekommerd is oor die stand van sake in Kannaland.
Hy het genoem dat die ANC sy raadslede onder druk plaas en verhinder dat hulle hul pligte uitvoer.
Die Icosa-leier, Jeffrey Donson, het die skorsingsbriewe aan die lede van die publiek en die media vertoon om die vergadering se onwettige status te beklemtoon.
Lede van die publiek bestorm die raadsaal. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'