KAROO NUUS - Nadat skoolleerders vir bykans twee maande tuis was, moes gr. 7- en gr. 12-leerders onder totaal vreemde omstandighede terugkeer skool toe.
Oudtshoorn Courant het dr. Clifford van Wyk, psigiater op Oudtshoorn, gevra wat die psigologiese impak van Covid-19 op leerders kan wees.
Hy het die volgende waarneming gemaak: "Gegewe die huidige poel van kennis, dat kinders redelik ongeskonde wegkom indien geïnfekteer met Covid-19, is daar volgens my weinig relevante argumente waarom kinders, wat geen ernstige komorbiede toestande het nie, nie terug skool toe moet gaan nie. Terug skool toe het 'n beduidend meer positiewe impak op die emosionele aspekte van leerders as die destruktiewe impak van die vlak 5 en 4 van inperking.
Die voordeel van weer interaksie met maats op 'n fisiese vlak, hoewel met streng inagneming van fisiese afstand en al die ander basiese reëls, het 'n definitiewe impak op kinders se emosionele welstand. Tydens die grendeltydperk was slimfone as kommunikasiemiddel, hoogmode. Dit bly egter 'n feit dat die heropening van skole 'n gesonder psigologiese impak het."
Van Wyk het ook verwys na die voedingskemas van skole wat ook 'n meer beduidende en dringende rol vir baie leerders vervul. Hy wys ook op die uiters belangrike rol wat die opvoeder speel ten opsigte van sosiale afstand, dra van maskers en gereelde handhigiëne.
"Herhalende opvoeding aan die kind op 'n kalm en begripvolle manier deur opvoeders sal baie meer konstruktief wees, omdat die infeksie 'n uiters lae-risiko inhou vir gesonde kinders. Ek bepleit dus 'n veilige en emosioneel-ondersteunende skoolomgewing. Eenvoudige vragies aan kinders oor hoe dit met hulle gaan, skep by die leerders 'n gevoel van omgee in hierdie tyd van angs en onsekerheid."
Een van die duisende skole wat landwyd oopgestel is, is Towerkop Primêr op Ladismith. Soos by ander skole word hier ook streng maatreëls gevolg om leerders en opvoeders veilig te hou. Leerders se koors word gemeet en hulle hande en skoensole word ontsmet voordat hulle die terrein mag binnegaan. In die klaskamers word die vereiste sosiale afstand ook gehandhaaf. Volgens die onderhoof, Keith Meyer is die drie gr. 7-klasse in ses groepe verdeel met 20 leerders per klas.
"Die uitdrukking, terug hok toe, het beslis 'n nuwe betekenis vir leerders en opvoeders gekry," sê Meyer.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'