OUDTSHOORN NUUS - Ontstoke inwoners van Rosebank het verlede Woensdagoggend een van die hoofpaaie in hul buurt met brande buitebande en klippe versper.
Volgens 'n woordvoerder van die protesgroep is die inwoners ongelukkig oor dienslewering.
"Ons bly al vier maande in die hokke langs die pad. Hoekom kan die Oudtshoorn-munisipaliteit nie vir ons ook tydelike toilette en water verskaf soos hulle in Hopeville gedoen het nie?" wou hy weet.
Volgens hom raak die inwoners van hul ontlasting en urine langs die pad ontslae.
"Dit hou nie net 'n gesondheidsrisiko vir die kinders en ouer persone in nie, maar gee ook 'n ondraaglike stank af."
Hy sê dat die raadslid van die wyk van die probleem in kennis gestel is, maar geen aksie het tot op hede gevolg nie.
Die Oudtshoorn-polisie het die situasie teen vroegmiddag ontlont waarna die inwoners die straat opgeruim en vreedsaam na hul huise gekeer het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'