PRINS ALBERT NUUS - Die ouditeur-generaal (OG) het op 1 Desember bekendgemaak dat Prins Albert-munisipaliteit 'n skoon oudit verslag vir die 2016/17 finansiële jaar behaal het.
Prins Albert-munisipaliteit is die enigste owerheid in die Sentrale-Karoo wat hierdie prestasie kon behaal.
Die uitvoerende burgemeester, Goliat Lottering, het die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, en sy bestuur geloof vir hierdie prag-prestasie wat volg na verskeie jare se ongekwalifiseerde oudits.
"Sedert ek op die raad gekom het, het ons beweeg van 'n gekwalifiseerde oudit na jare se ongekwalifiseerde oudits tot waar ons vandag uiteindelik met 'n skoon oudit kan spog," het Lottering Maandag gesê.
"Dienslewering was nog altyd die raad se prioriteit en ons kon nog altyd daarin slaag om volhoubare en gehalte diens aan ons gemeenskap te lewer, ongeag die uitdagings wat ons gereeld in die verband ervaar.
"Die skoon oudit beloon egter nie net dienslewering nie, maar gesonde en verantwoordbare bestuur."
Mettler, het beklemtoon dat die skoon oudit slegs behaal kon word omdat élke individuele personeellid sy en haar deel gedoen het.
"Ek is ongelooflik trots op my owerheid en my personeel. En natuurlik op my raadslede wat met hul leierskap ons die nodige leiding en ondersteuning bied om hierdie prestasie te kon behaal.
"'n Skoon oudit was nog altyd net-net buite ons bereik en ons het begin dink dat ons as 'n klein owerheid met ons beperkte kapasiteit maar tevrede sou moes bly met die tweede prys van ongekwalifiseerde oudits.
"Om 'n skoon oudit, 'n eerste prys, te behaal is die beste Kersgeskenk wat ons kon kry.
"Ons owerheid is verbind tot hoë gehalte dienslewering. Dit beteken nie dat ons alles reg en perfek doen nie, maar ons kan ons gemeenskap verseker dat ons altyd hul beste belang op die hart dra en ons beste gee.
"Ons is in 'n goeie finansiële posisie. Ons het water, al is daar waterbeperkings en Eskom is betaal."
Hy sê Prins Albert kan vir die eerste keer in jare kyk na infrastruktuur verbetering.
"Ons het genoeg geld in die bank om ons skuld te delg. Aan die einde van 2016/17 het ons nagenoeg R20 miljoen oorgeplaas na die reserwefonds.
"Hierdie prestasie is nie iets wat ons uit ons eie kon bereik nie.
"Ons is dankbaar teenoor ons gemeenskap wat hul rekeninge betaal en die provinsiale en nasionale regering wat ons met verskeie programme en fondse ondersteun."
Volgens Mettler verwesenlik hulle die Wes-Kaap se leuse, "Saam is ons beter."
Lottering het die gemeenskap beloof dat die Prins Albert-munisipaliteit sal voortbou op vanjaar se sukses, "selfs al lê die MSCOA-implementering soos 'n berg voor owerhede."
"Soos in die verlede gaan ons ook in die toekoms net ons beste gee - want ons gemeenskap verdien dit," het Lottering gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'