OUDTSHOORN NUUS - Die tweede boek uit die pen van Tisha Steyn is pas vrygestel.
Sy het die volkleur glansboek Master Game Ranchers of South Africa: Passion and Power waaran sy nege maande gewerk, het verlede week ontvang.
Steyn is 'n vryskutjoernalis en skrywer wat die afgelope sewe jaar in Oudtshoorn woon. Piet van Zyl, van George, het die finansies en logistieke sy van die publikasie hanteer.
"Na die eerste boek, Meesterboere, het my seun, Jean-Pierre, wat self in die wildbedryf betrokke is, voorgestel dat die volgende boek oor die wildbedryf handel," sê Steyn.
Verskillende afdelings word in die boek behandel, naamlik diegene wat 'n historiese rol in die bedyf gespeel het, soos dr Johan Kriek, wat bedreigde wild-spesies uit buurlande ingevoer het, Dreyer van Zyl wat 'n groot rol gespeel het in die teling van die bastergemsbok, en Willie Roux, die eerste wild-afslaer.
Suksesvolle wildtelers sluit Hennie Barnard, Piet Warren en Barend Vorster, Hannes du Preez, Rubin Els van Thaba Tholo, Jacques Malan, Tina de Jager en Piet du Toit in.
Wildboere wat hul toespits op die volhoubare teling van kleurvariante sluit Ellalien Davey en Julian Theron in. Dries Visser en Arthur Rudman het baanbre-kerswerk in die jagbedryf gedoen, Angus Sholto-Douglas van Kwandwe en Arnold Neethling van Botlierskop het ekotoe-risme tot 'n nuwe hoogte gevoer. Wiaan van der Linde is 'n voorbeeld van die benutting van die volle waardeketting. Louis van Rensburg, Andrew Conroy, en wyle Jan van der Walt, wat WILD&JAG meer as 20 jaar gelede begin het, het 'n waardevolle bydrae gemaak tot die ontwikkeling van strukture binne die wildbedryf.
Louis van der Watt, Norman Adami en Tebogo Mogashoa gee 'n toekomsblik op die bedryf, en Lood Bester van die Wildswinkel-veilingsgroep, het die laaste woord.
Die boek is uitgegee deur WILD&JAG.
"Ek het Hennie van der Walt, huidige eienaar en uitgewer van WILD&JAG, gevra vir inligting oor Oom Jan, sy pa. Hennie wou weet waarvoor ek die inligting nodig het, en toe ek noem dat 'n boek oor die wildbedryf geskryf word, het hy dadelik aangebied dat WILD&JAG dit sal uitgee."
Hennie het die inleiding geskryf. Die voorwoord is geskryf deur adjunk-president Cyril Ramaphosa, self 'n wildboer van formaat.
Kontak Santie Liebenberg by 012 348 5550 vir meer besonderhede of om 'n boek te bestel.
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'