Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Lede van die vakbond, Popcru het Maandag versoekskrifte aan die bevelvoerders van korrektiewe dienste en die polisie in Oudtshoorn oorhandig.
Volgens Simphiwe Hadebe, POPCRU-sekretaris in Oudtshoorn, hou hulle die optredes om reaksie te eis op griewe wat reeds baie lank onaangespreek is. Popcru verteenwoordig lede van die SAPD, korrektiewe dienste en provinsiale verkeersafdelings. Tydens die protes buite die Oudtshoorn-polisiestasie het lede gedreig om die polisiestasie se hoofkantoor binne te vaar en uniform-polisiemanne te dwing om misdaad te bekamp.
Lt. kol Angie Amase het die versoekskrif van Hadebe ontvang en onderneem om dit na 'n hoër gesag te verwys.
Hadebe het oor 'n luidspreker aan Amase en ander polisielede gesê: "Die gebou sit vol opgeleide polisiemanne wat eerder misdaad kan voorkom, as om kantore vol te sit."
Hy het ook die bespoediging van regstellende aksie binne die polisie geëis. Volgens hom word die polisie nog deur apartheidsleiers bestuur, seëvier rassisme nog binne die polisie en word Popcru se lede sleg behandel. Indien daar nie spoedig 'n verandering kom nie, sê hy, sal Popcru aksie neem en die polisiemanne en -vroue uit die polisiestasie verwyder en met klerke vervang.
Van die punte wat in die versoekskrif aangeraak word is onder andere lede wat reeds meer as 10 jaar diens het en nie bevorder word nie, tekort aan polisielede en vorige ondernemings wat deur die polisie geneem is maar nooit uitgevoer is nie.
'n Popcru-lid eis dat die standbeeld vernietig moet word. Volgens hom beeld dit die apartheidspolisie uit. Foto's: Christo Vermaak
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Popcru dreig met aksie teen polisie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'