OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n saak van handel en kweek van dagga na 'n 46-jarige vrou verlede Vrydag by haar huis in hegtenis geneem is.
Die vrou is 'n kaptein verbonde aan die polisie se opleidingskollege. Nog 'n verdagte is saam met haar, ook by haar woning, in hegtenis geneem.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is ongeveer 300 daggaplante, verwerkte dagga en ook daggaolie, in die vrou se huis gevind.
Die polisie het op die dagga beslag gelê en dit is vir toetse weggestuur.
Aanvanklike inligting het daarop gedui dat die vrou Maandag in die hof verskyn het, maar die saak is nog nie op die hofrol geplaas nie.
Sy is Vrydagoggend borgtog deur die polisie toegestaan.
Die naam van die verdagtes is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan nie bekend gemaak word voor hulle nie amptelik in die hof verskyn het nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'