OUDTSHOORN NUUS - Die sopkombuis en nasorgsentrum in Polisiehoogte, Bridgton, in Oudtshoorn, wat deur die Seroux-egpaar, Phillip en Susanna, drie jaar gelede op die been gebring is, het op Mandeladag hulde aan die merkwaardige leier gebring.
'n Groep studente en bestuurslede van die Oudtshoorn-Polisie-akademie het vir hul 67 minute die geleentheid bygewoon en aan elke bejaarde van die sentrum 'n geskenkie oorhandig.
Verteenwoordigers van SAFFI (South African Faith & Family Institute) sowel as die bestuurder van Nedbank Oudtshoorn het ook die viering bygewoon.
Nadat die polisiestudente die terrein saam met 'n paar fikse bejaardes skoongemaak het, is die bejaardes getrakteer op 'n heerlike bord potjiekos en gebraaide wors wat geborg is deur die Oudtshoorn Groentemark en Pieter Blignault, eienaar van Oudtshoorn Foodlovers Market.
Die dag se verrigtinge het begin met 'n boodskap deur Aartsbiskop RE Booyce.
Volgens Seroux is die sopkombuis en nasorgsentrum na drie jaar steeds aan die groei danksy wye ondersteuning.
Die sentrum spog tans met 'n bejaarde klub van sestig senior burgers van die omgewing wat elke dag van die week 'n ete ontvang. Daar is ook 'n aantal rekenaars wat leerders na skool vir take kan gebruik en drie personeellede, 'n skoonmaker, administratiewe klerk en kok wat vir agt maande vergoeding van die staat ontvang.
Seroux het almal bedank wat van die Mandeladagviering so 'n groot sukses gemaak het en bygevoeg dat hulle tans besig is met 'n projek om die sentrum se vloere te teel en 'n palissadeheining vir veiligheid aan te bring waarvoor donateurs gesoek word.
Hy het 'n beroep op plaaslike besighede en sakemanne gedoen om die projek te ondersteun en kan gekontak word by 079 987 9486.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’