OUDTSHOORN NUUS - Die polisie in Oudtshoorn het die week verskeie arrestasies, waarvan twee dwelm verwant is, gemaak.
Verlede Dinsdag is 'n 55-jarige vrou op die N12 gearresteer na dwelms met 'n straatwaarde van R150 000 in haar besit gevind is.
Volgens kapt. Malcolm Potjie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was dit 'n intelligensie gedrewe operasie in samewerking met die George- en Oudtshoorn-polisie en die Attaqua-honde-eenheid.
"Lede van die honde-eenheid het 'n taxi, wat na Oudtshoorn onderweg was afgetrek. Toe hulle die vrou deursoek het, het hulle twee sakke tik by haar gevind. Sy het verlede Donderdag in die hof verskyn."
In Oudtshoorn is daar verlede week ook 'n 41-jarige man van Smartie Town vir handel in dwelms in hegtenis geneem nadat 1 000 Mandrax-tablette en 250 gram tik in sy woning gevind is. Volgens sersant Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, beloop die straatwaarde R165 000.
"Daar is ook drie verdagtes vir besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem, twee persone is met gevaarlike messe gekry en nog 'n man het met 'n panga geloop. Die verdagtes het 17 Desember in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn," het Micheals gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'