KANNALAND NUUS - "Ons gaan julle uitsnuffel ongeag wie of wat jy is."
Dit was laasweek die boodskap van 'n vasberade polisiehoof, kol. Pauline Kriel aan smokkelaars en misdadigers in Kannaland.
Volgens Kriel is die polisie se onlangse stygende suksesverhaal ten opsigte van misdaad in Kannaland, te danke aan verskeie huise wat vir dwelms deursoek word en dan terselfdertyd persone vir oproerige gedrag, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en diefstal arresteer.
'n Berugte smokkelaar in Koenzestraat het ook onlangs deurgeloop toe 'n vrou vir Mandrax en tik gearresteer is. Alhoewel die gemeenskap die arrestasie van die vrou verwelkom het, soek hulle die eintlike smokkelaar agter tralies.
'n Totaal van 170 gram tik en 188 Mandrax-tablette is in die proses gekonfiskeer.
Volgens die polisie is beurtkrag 'n groot bydraende faktor tot misdaad.
Kriel het die publiek gemaan om nie die polisie te verhinder in die uitvoering van hul pligte nie, aangesien misdaad die hele gemeenskap affekteer. Onlangs is drie persone, wat in besit van koperkabels was wat van Telkom gesteel is, ook in hegtenis geneem.
Voorts het Kriel haar lede asook lede van die publiek geloof vir hul rol in die arrestasies van misdadigers. Die polisiewoordvoerder van die Suid-Kaap, sers. Chris Spies, het die arrestasies bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'