OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die polisie en hospitaalpersoneel hul hande vol het sedert die beperking op drank verslap is.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die klagtes wat moontlik verband kan hou met drankgebruik, soos aanranding, oproerigheid en bakleiery 'n toename van 50% getoon sedert die verslapping van die drankverbod twee weke gelede.
"Bakleiery se klagtes het met 80% gestyg. As 'n naweek in Januarie vergelyk word met die afgelope naweek, vanaf Vrydag tot Sondag was daar die afgelope naweek 'n styging van bykans 50% in klagtes."
Volgens hom kan die afleiding met redelike sekerheid gemaak word dat die gedeeltelike opheffing van die drankverbod tot 'n toeneem in klagtes gelei het.
Visser sê verder die impak wat dit op die polisie en hul dienslewering het, is enorm.
"Die polisie word oorval met klagtes wat beteken dat ander klagtes nie so vining bygewoon kan word nie. Meer klagtes beteken dat voertuie minder tyd het vir patrollies en dus minder tyd het om mense wat byvoorbeeld nie binne die aandklokreël bly nie aan te spreek.
Ons tree dus reaktief op in plaas van proaktief. Hierdie klagtes gaan ook gepaard met meer arrestasies wat beteken lede het meer administratiewe werk wat hulle besig hou voor hulle weer ander klagtes kan bywoon."
Volgens hom prioriseer die SAPD klagtes van die publiek in drie kategorieë naamlik die wat in aanvang is, soos bakleiery en botsings, die waar daar 'n arrestasie uitgevoer is en die laaste waar daar 'n saak gemaak moet word oor 'n voorval wat plaasgevind het.
"Beamptes word ook meer blootgestel aangesien sosiale distansiëring bykans onmoontlik is met mense wat onder die invloed van drank is en dit affekteer weer hulle families."
Nadia Ferreira, Tuinroete en Sentraal-Karoo se woordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê, al hulle distrikshospitale in die Tuinroete-distrik het 'n toename in trauma-gevalle die afgelope week aangemeld.
"Hierdie gevalle sluit in: messteekwonde, seksuele aanranding, interpersoonlike geweld, en ander voorvalle. Ons doen 'n beroep op die publiek om, indien hul alkohol gebruik, dit verantwoordelik te doen. Die groter aantal trauma-pasiënte plaas ekstra druk op personeel en die hospitale se kapasiteit."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'