Video
LADISMITH NUUS EN VIDEO - 'n Video waarop 'n man van Ladismith deur die polisie gedwing word om sy eie bierbrousel uit 'n emmer te drink het opslae in Kannaland gemaak.
Op die video kan gesien word hoe 'n man in die teenwoordigheid van polisiebeamptes langs 'n SAPD-voertuig op die grond kniel en 'n brousel drink.
Deon Meyer, 'n inwoner van Ladismith, sê hy is geskok oor die feit dat polisiebeamptes 'n man so verneder het en terselfdertyd 'n video daarvan gemaak het.
Volgens Meyer het Jackson Tok (51) sy eie Umgumboti (skomfaan) gebrou en het die polisie omstreeks 20:00 op Saterdag 9 Mei by sy plakkershut in Pedrostraat opgedaag terwyl hy en sy vriendin, Susanna Julius, geslaap het.
"Jackson sê die polisie het hom met traangas gespuit en buitentoe geneem. Een van die polisiebeamptes het die emmer tuisgemaakte bier gaan haal en hom beveel om uit die emmer te drink. Tok is daarna na die polisieselle geneem en glo geskop."
Volgens Meyer is Tok R1 000 beboet omdat hy sy eie bierbrousel gemaak het en is ook nog 'n R100 boete opgelê, maar hulle probeer nog vasstel presies waarvoor die R100 boete was.
"Daar is so baie mense wat hul eie bier brou. Hoekom spesifiek Jackson teiken en hom dan nog so verneder ook?"
Kyk die video hieronder:
Meyer sê Tok wou aanvanklik nie 'n klag teen die beamptes gaan lê nie omdat hy bang was dat hulle hom sal toesluit.
"Ek het toe besluit om hom te help. Ek het 'n doktersverslag ook bekom waarin die dokter sê dat Jackson beserings aan sy bors opgedoen het."
'n Klag is by die Wes-Kaapse polisie-ombudsman ingedien en omdat kriminele klagtes ook ondersoek word is 'n klag by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ingedien.
Kaptein Malcolm Pojie, woordvoerder van die SAPD in die Suid-Kaap het gesê die saak word in 'n ernstige lig beskou. Hy het bevestig dat die bevelvoerder van die Eden-streekk. majoor-generaal OD Reddy, reeds 'n dissiplinêre ondersoek na die voorval gelas het.
'n Skermgreep van die video.
Kaptein Malcolm Pojie se volle verklaring:
The video that went viral, depicted the complainant drinking homemade brew from a bucket, whilst allegedly in the presence of SAPS members, is regarded in a very serious light. In light of this serious allegations made, the Eden Cluster Commander, Maj Gen OD Reddy has already instituted disciplinary investigation into the circumstances surrounding the incident.
A senior officer attached to the Cluster office has been assigned to conduct the investigation which potentially may lead to serious consequences being imposed on those members implicated.
As mentioned in previous communique, the criminal offence of Assault Common is being investigated by the Independent Police Investigative Directorate (IPID).
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'