Update
OUDTSHOORN NUUS - Grootmaat diefstal van plaveistene op sypaadjies het die Oudtshoorn-munisipaliteit genoodsaak om die plaveisel op te breek en met sement te vervang.
'n Projek wat in 2013 begin is, om Dassieweg en ander strate met geplaveide sypaadjies te versier, het vir die munisipaliteit in 'n nagmerrie ontaard.
Die stene word deur diewe weggedra.
Van die duisende stene warmee 'n hele aantal voetpaaie ook gebou is, is niks oor nie.
Die projek het volgens onbevestigde inligting bykans R20 miljoen gekos.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder by die Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê: "Die munisipaliteit is deur sy werkskeppingskomponent besig om die plaveisel op te breek en met sement te vervang."
Mangqwengqwe het Dassieweg uitgesonder as een van die probleemareas, waar die meeste plaveisel gesteel is.
Johan Fourie, portefeuljeraadslid vir tegniese dienste, het teenoor die Oudtshoorn Courant sy misnoeë uitgespreek oor die diefstal.
Hy het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting oor wie die plaveiseldiewe is.
"Ons sal geen steen onaangeraak laat om die diewe vas te trek en te sorg dat hulle voor die hof gedaag word nie."
Regs: Een van die wandelpaaie wat teen miljoene rande in Bongolethu gebou is minder as 'n jaar nadat dit voltooi is. Foto: Hannes Visser
Fourie het gesê daar is nog nie sekerheid oor wat nou met die plaveisel gedoen gaan word, wat opgegrawe is nie.
"Ons grawe ál die geplaveide sypaadjies op en stoor die stene vir eers by die munisipale stoorterrein."
Lees 'n vorige artikel: Plan B na plaveisel verdwyn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'