OUDTSHOORN NUUS - Nelton Willemse en Hilton Jackson is eie aan Oudtshoorn en het 'n diep gewortelde liefde en ervaring in kuns. Hierdie jaar kry feesgangers die kans om hul merkwaardige werk te sien, te waardeer en aan te skaf.
Voluit Karoo is die tema wat hulle gebruik het om 'n unieke skeepsvraghouer vir die opkomende 30ste KKNK te verf. Die houer sal op die feesterrein uitgestal word en besoekers word genooi om 'n draai te maak vir 'n spesiale interaktiewe geleentheid.
"Ons het besluit om alles wat ons aan die Karoo laat dink in die skildery aan te bring en werklik voluit te gaan soos hierdie jaar se tema van die KKNK," noem Willemse. Daarom dat hulle 'n volstruis, meerkatte, die pragtige Swartberge, 'n plaasdam en plaaswerkers in die skildery ingewerk het.
Hulle het ook die heel eerste muur vir die eerste KKNK wat 30 jaar gelede in Oudtshoorn plaasgevind het geverf. Die muur is beskilder met beelde van Oudtshoorn en die Karoo, die CP Nel-museum se bekende kloktoring, die Kango-grotte en volstruise. Die muur was 16 m lank en was basies by die rivier, dit het intussen deur die jare verdwyn, 'n feit waaroor hulle beide baie hartseer is, hul sou graag 'n stukkie hiervan vir die nageslagte wou bewaar.
KKNK
Beide is opgewonde oor die opkomende kunstefees en sal by verskeie plekke in die dorp, asook die feesterrein vir portretstudies wees. Persone wat belangstel in interaktiewe portretstudies kan gaan inloer by die KKNK-feesterrein, asook by Karoopot waar Hilton sal wees en Nostalgie waar Nelton gaan wees. Hulle werk word ook uitgestal by die Karoo Kunsgalery in Baron van Rheedestraat waar hulle 'n studio gaan deel.
Vir beide is die tema van die jaar se KKNK persoonlik, hul glo vas kuns moet voluit geleef word en dat die speelveld wyd is met verskeie mediums wat gebruik kan word om uitdrukking aan kreatiwiteit te gee. Hulle sal daagliks vanaf 10:00 - 18:00 op die feesterrein wees en kan kunsliefhebbers hulle by die skeepsvraghouer of by hul onderskeie kunsuitstallings binne die feestente besoek.
Hilton Jackson
Hilton Jackson is gebore en getoë in Oudtshoorn en is 'n talentvolle visuele kunstenaar wat inspirasie kry uit die natuurlike skoonheid van die Klein-Karoo. Hy is bekend vir sy boeiende en gedagteprikkelende werk wat fokus op die lewe in die Karoo, die plaaslike gemeenskap, asook die daaglikse lewe in die Karoo, asook sy besondere portretstudies. Jackson teken en skilder van kindsbeen af met sy ma se hulp, leiding en bystand. Hy is lief vir verskeie mediums soos houtskool, pastel, akriel en olie. Hy het al by verskeie feeste uitgestal en is 'n bekende gesig in Oudtshoorn waar hy veral by restaurante portretstudies vir gaste doen. Hilton het 'n groot liefde vir Claude Monet se werk en dit is sigbaar in sy unieke kuns.
Nelton Willemse
Nelton Willemse is ook 'n erkende visuele kunstenaar wat reeds op skool erkenning ontvang het vir sy werk. Hy het Rembrandt en Da Vinci bestudeer en het al vantevore by die KKNK uitgestal. Hy het al aan vele uitstallings deelgeneem waaronder 'n uitstalling in Sante Fe in Amerika. Hy het ook al met animasie gewerk, asook 3D modellering en het ook tydens die gewilde jaarlikse Woordfees portretstudies gedoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’