OUDTSHOORN NUUS - Alet van Heerden is 'n Oudtshoorniet wat besig is om haar naam as digter te vestig. Behalwe dat sy reeds in 2014 haar eie digbundel gepubliseer het, is verskeie van haar gedigte in bundels van bekende samestellers opgeneem.
Haar jongste prestasie is tien gedigte wat sy aan die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans gestuur het en wat almal in die bundel Stemme uit die Suiderland gepubliseer is.
Sy is aangewys as die wenner in die kategorie vir natuurgedigte en was ook genomineer vir die kategorie, Liefde.
Sy het op die plaas Kareeboskuil grootgeword en skoolgegaan waar haar ma, Beatrix Bosman, eers onderwyseres en later hoof van die laerskool was. Sy en twee van haar susters, Magdaleen en Jopsie, het onderwyseresse geword, terwyl Trix verpleging as beroep gekies het.
Sy het van jongs af geskryf. "Ek het op Hoërskool Wolmaransstad goeie opstelle geskryf wat soms in die klas voorgelees is," vertel sy.
"As student aan die Potchefstroomse Onderwyskollege het ek my eerste gedig geskryf wat in die jaarblad gepubliseer is." Sy skryf graag oor die bekende dinge wat sy waarneem, ondervind of waaroor sy iets gelees het en wat haar inspireer het, soos die natuur, liefde, of sommer net mymeringe…
In 2014 het sy die bundel Bloureën, wat 100 Haikoe-gedigte bevat, publiseer. Die bundel is deur dr. Fanie Marais van die Cordis Trust geborg en deur Myra Lochner van Kreativ SA redigeer en uitgegee.
"Ek het ook begin om sketse en kortverhale te skryf wat in 'n paar bundels saam met ander skrywers se werk publiseer is."
Lanterns langs die Pad is drie jaar gelede deur die Klein Karoo Skrywerskring uitgegee. Dié skrywerskring se naam is onlangs, onder leiding van voorsitter Coen Basson, verander na Klein Karoo Skryffabriek.
Van Heerden behoort ook aan Die Woordgilde, wat al om die ander jaar 'n bundel publiseer.
"Van my gedigte is in die bundels publiseer; in hul kompetisies het ek ook gereeld onder die eerste 15 digters geëindig."
Twee van haar gedigte is in Losvoor, Antjie Krog se versameling van Afrikaanse Poësie, in 1996 opgeneem. "Elf, en toe weer twaalf van my kinderrympies verskyn ook in Rympies vir Pikkies en Peuters (1-3 jaar), en Rympies vir Kleintjies en Kleuters (3-6 jaar) wat onder andere deur Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh saamgestel en deur Tafelberg uitgegee is."
Volgens haar het die Klein Karoo Skryffabriek 'n groot invloed op al die skrywers wat eenmaal 'n maand die byeenkomste bywoon. "Daar leer ons van mekaar en deel wenke."
Haar raad vir iemand wat wil skryf is: "Sit op 'n stoel en begin net skryf; en lees baie…"
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'