OUDTSHOORN NUUS - Hy was nie net 'n man wat oor die jare 'n groot invloed op toerisme in Oudtshoorn gehad het nie, ook nie bloot net 'n oudraadslid nie, en hy was ook nie net 'n man wie se liefde vir ou motors hom bekend onder motorgeesdriftiges gemaak het nie.
Nee, Pieter Retief (81) was 'n geliefde eggenoot aan sy vrou Hilda, pa van vyf kinders, oupa van sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders wat Maandag 20 November na 'n lang siekbed oorlede is.
Retief, oorspronklik van Paarl, het homself reeds in die laat 1960's in Oudtshoorn kom vestig. Hy het aanvanklik in die gastehuisbedryf begin werk by Caves Motel, maar later sy liefde vir motors begin uitleef toe hy sedert die laat 70's tot middel 80's sy eie motorhandelaar, Piet Retief Motors, bedryf het, wat 'n reeks verskillende handelsmerke verkoop het.
Pieter Retief en sy vrou, Hilda, is sedert hulle skooljare by mekaar.
Hy is meer bekend as die voormalige eienaar van Adley House-gastehuis in Jan van Riebeeckweg in Oudtshoorn. Hy het die gastehuis van 1994 tot 2017 bedryf waarna sy dogter, Helene, tot 2022 die bestuur daarvan oorgeneem het totdat dit later verhuur is.
Sy voorliefde en passie vir motors, veral die ou klassieke weergawes, het reeds as jong man begin, maar eers teen 1980 sou hy hulle begin versamel. Vir meer as 40 jaar het hy van die raarste ou motors versamel, maar ook voertuie wat hy as kind leer lief het.
Buiten sy tyd in die gastebedryf en sy liefde vir ou motors was Retief 'n bekende sakeman in Oudtshoorn en 'n kranige ovaalbaanrenjaer wat talle kampioenskappe hier in sy jonger dae gewen het.
Sy dogter, Liza Retief Ferreira, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat haar pa soveel liefde vir Oudtshoorn en sy mense gehad het.
"Die Klein Karoo en sy mense was in sy hart en in sy bloed - hy het altyd geglo hy kan nog iets vir Oudtshoorn doen. Nou is sy stem stil, sy wyse woorde min en sy stories is op. Ons gaan hom ongelooflik baie mis, maar hy sal vir altyd in ons harte voortleef.
'n Gedenkdiens sal Vrydag 24 November om 15:30 by Retief se "happy place", Adley House gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’