OUDTSHOORN NUUS - 'n Pastoor van 'n gemeente op Oudtshoorn is Dinsdag by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem op klagtes van verkragting en onsedelike aanranding van 'n minderjarige.
Die man se identiteit is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar mag eers bekend gemaak word nadat hy in die hof gepleit het.
Hy het reeds in die hof verskyn en verskyn weer Maandag 15 Oktober vir 'n borgtogaansoek.
Die 58-jarige man staan tereg op vyf klagtes, twee van verkragting en drie van onsedelike aanranding.
Volgens die klagstaat het een van die voorvalle by die kerk plaasgevind. Die voorvalle het na bewering in 2003 plaasgevind toe die klaagster 13 jaar oud was.
Die Oudtshoorn Courant het vertroulik verneem dat die polisie op sy persoonlike- en werksrekenaars beslag gelê het.
Inligting dat daar moontlik nog klagtes kan volg kon nie deur die polisie bevestig word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'