KLEIN KAROO NUUS - Boekwurms kan oor twee weke uitsien na 'n leesfees op Prins Albert met 'n propvol program.
Verskeie nuwe publikasies van bestaande en debuutskrywers word vanaf Vrydag 1 tot Sondag 3 November bekendgestel. Kaartjies vir Harmonie tussen mens, dier en aarde waarmee die leesfees open, is bykans uitverkoop.
Die bekende fotograaf, Louis Botha se nuutste glansboek N/a'an ku sê word bekendgestel. Hy, die bekende omgewingskundige, Dave Pepler, en dr. Rudie van Vuuren van die N/a'an ku sê-stigting is in gesprek.
Dié stigting is 'n liefdadigheidsorganisasie wat hulle wy aan die bewaring van die omgewing, kultuur en wildlewe van Namibië. Dit is Botha se derde boek wat weereens met puik fotografie 'n greep uit 'n deel van Suider Afrika, hierdie keer Namibië, vasvang.
Die leesfees is weer by die Jans Rautenbach Schouwburg wat sentraal geleë is en daar is 15 verskillende gesprekke sowel as twee skryfslypskole en werksessies vir skoolleerders. Die wenners van die leesfees se skryf- en digkompetisie word ook tydens die leesfees aangekondig. Die program is so beplan dat gesprekke nie oorvleuel nie en feesgangers dus elke gesprek kan bywoon.
Ander hoogtepunte op die program is 'n gesprek van die digter Pieter Hugo met die bekende volksverteller, Dana Snyman.
Daar is ook twee gesprekke oor die digkuns. Die Afrikaanse gesprek is tussen Pieter Hugo (Alchemie van my muse) en Hannes Visser (Die jaar toe pa...) terwyl Engelse digkuns op die verhoog is met 'n gesprek tussen drie digters, Annette Snyckers (Remnants, Restante, Reste), Archie Swanson (the shores of years) en Helen Moffett (Prunings).
Die verhaal van Zephany Nurse (Miché Solomon) wat in die boek Zephany: Two mothers, one daughter gaan ook groot belangstelling lok as Solomon en die skrywer Joanne Jowell, oor die boek gesels.
Ander skrywers wat van nader geleer ken kan word is Anzil Kulsen, 'n getroue deelnemer aan die fees, Sally Andrews met haar gewilde Tannie Maria-boeke, Fred Khumalo, Jan van Tonder, Melissa A Volker, Dawn Garisch, Olivia M Coetzee en Mike van Graan.
Louis Botha met sy twee vorige boeke, Karoo en Slowdown.
Foto: Marlene Malan
Skrywers skuif nader
Dr Mia Oosthuizen, kinder- en jeugboekspesialis en manuskrip-ontwikkelaar bied op Vrydag 1 November twee slypskole vir skrywers en aspirantskrywers aan. Die eerste een vanaf 09:00 tot 12:00 handel oor die kuns van kinderboeke en die tweede een fokus op wat om te maak met daardie manuskrip wat 'n plek op 'n boekrak soek.
Die slypskole kos R450 elk en kan by miaoosthuizen@gmail.com of 072 242 3523 bespreek word.
Die bekende jeugboekskrywer, Anzil Kulsen is wewer op haar pos om saam met Zelda Bezuidenhout 'n werksessie aan hoërskoolleerders aan te bied. Dan is daar natuurlik ook Jitsvinger, die bekende kletsrymkunstenaar wat reeds op Woensdag 30 en Donderdag 31 Oktober 'n kreatiewe werkswinkel vir leerders van Hoërskool Zwartberg aanbied.
Hulle tree dan saam met hom by die Showroom op op 1 November. Die Schouwburg het beperkte aantal sitplekke dus is dit veiliger om vooraf te bespreek.
Vir kaartjiebesprekings klik hier of skakel 023 541 1014.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'