OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het op 18 Julie vier verdagtes op die Dysselsdorp-pad vir die besit van dwelms gearresteer.
Volgens ao. Gretchen Michaels, Oudtshoorn-polisiewoordvoerder, het die verdagtes, nadat hulle die padblokkade gewaar het, hulle voertuig se ligte afgeskakel en so probeer om die pad ongesiens te verlaat.
Die polisie het hulle agternagesit en ‘n sak met tik en Mandrax-tablette langs die voertuig gevind.
Die vier verdagtes is op die toneel gearresteer.
Daar is ook verkeersboetes ter waarde van R11 300 tydens die padblokkade uitgereik.
Tydens nog 'n padblokkade wat op 16 Julie plaasgevind het is nog 'n persoon gearresteer en op 50 Mandrax-tablette en 20 gram tik beslag gelê.
Polisielede het tydens 'n padblokkade op 17 Julie 'n voertuig op die De Rust-pad deursoek en op 112,66 gram tik en 100 Mandrax-tablette afgekom. Verkeersboetes ter waarde van R8 400 is uitgereik.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'