OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong egpaar, Aaron Sithole (23) en Mercy Ncube (22), se opslaanhut met al hul besittings het Woensdagoggend in Bongolethu (naby die kanaal) afgebrand.
Henry Mpofu, eienaar van die opslaanhut by wie die jong egpaar gewoon het, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy uit die veld geslaan was toe mense wat in dieselfde pad woon aan sy voordeur geklop het om hom in te lig van die brand wat in sy erf woed.
"Ek het dadelik gehardloop om emmers water by 'n kraan te gaan haal om die brand te blus.
As die kraan nader was, kon ons die brand dalk vroeër geblus het."
Toe die Oudtshoorn-brandweerdienste op die toneel opdaag was die brand reeds geblus. Sithole, wat verestoffers verkoop, vertel dat hy op pad George toe was toe Mpofu hom gebel het om hom in te lig dat sy woning tot op die grond afgebrand het.
"Dis regtig 'n hartseer dag vir my en my vriendin omdat ons nou weer van voor af ons huisie en besittings moet opbou."
Niemand is in die voorval beseer nie. Dit is ook nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'