OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa van drie kinders van Calitzdorp, wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof onder huisarres geplaas en 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Pieter Jacobs (33) van Royal Heights, Calitzdorp, het in 'n pleitverduideliking erken dat hy 'n 18-jarige vrou seksueel aangerand het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het aanvaar dat die beskuldigde skuldig gepleit het en dit as 'n mate van berou gesien moet word.
Volgens haar sal 'n algehele opgeskorte vonnis, soos deur die korrektiewe beampte aanbeveel is, egter nie 'n gepaste vonnis wees nie, omdat Jacobs 'n lang lys vorige veroordelings op sy kerfstok het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Jacobs is gelukkig dat hy, sowel as die klaer nog hul klere aangehad het en hy hom nog 'n kans sal gee om buite die tronk te rehabiliteer.
Ten spyte van sy lang lys vorige veroordelings was dit sy eerste seksuele misdryf.
Hy het ook al 'n persoon se lewe geneem en is tot dusver middelmatige vonnisse opgelê.
Hy het oop kaarte in die hof gespeel en dit was gevolglik nie nodig vir die klaer om na die hof te kom nie.
Jacobs is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Verder is hy ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels 24 uur per dag onder huisarres vir die volle drie jaar behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en 18 uur per maand gratis gemeenskapwerk doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'