PRINS ALBERT NUUS - Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het Maandag 'n besoek aan Prins Albert afgelê en bestuurslede van verskeie sportkodes ontmoet om die pad vorentoe te bespreek rakende die ontwikkeling van sportinisiatiewe op die dorp en die instandhouding van sportgeriewe.
Sy het haarself bereid verklaar om te luister na mense se behoeftes en besware, en waar daar leemtes heers.
Tydens vraetyd het verteenwoordigers van verskeie sportkodes van dié geleentheid gebruik gemaak en tekortkominge aan Marais genoem.
"Sport en kultuur bind 'n gemeenskap saam, dit versterk die maatskaplike bande tussen mense en gemeenskappe in die geheel, terwyl deelname hieraan help om mense psigies en fisiek gesond te hou, elke individu is verplig om ook die geriewe wat aan hulle geskenk word, in stand te hou en te versorg," het Marais gesê.
Marais het tydens haar besoek ook samesprekings gehou met die DA-kandidaat, Margy Jaftha, wat tot sowat 'n maand gelede burgemeester van Prins Albert was.
Jaftha het onlangs by die DA aangesluit nadat sy uit die KGP (Karoo-Gemeenskapsparty) geskors is, onder meer oor die aanstelling van die hoof van finansies.
Jaftha het, teen die KGP se opdrag, die DA se keuse van 'n geskikte kandidaat ondersteun. Sy is toe, ná 'n tugverhoor, uit die KGP geskop. Linda Jaquet (DA) neem intussen as burgemeester waar.
"Ek was bereid om eerder by die huis te sit sonder 'n salaris as om verkeerde besluite te neem," het Jaftha gesê. "Ek bedank Marais dat sy my en die dorp ondersteun. Ek gaan die dorp blou hou," het Jaftha gesê.
Volgens die speaker, Stoffel Botes, het Jaftha klaar opdrag gegee om ernstig aandag aan sportontwikkeling in Prins Albert te gee, sou sy op 14 September as verteenwoordiger vir wyk 4 verkies word en weer tot die raad toetree.
"Ná haar verkiesing wil sy verdere gesprekke hieroor voer. Sodra die raad ná volgende maand se verkiesing in plek is, gaan verstellings gemaak word. Ons hét die inligting, soos oor waar daar leemtes is."
Botes het die vertroue uitgespreek dat Jaftha, as gesoute raadslid, haar terugkeer na die raad sal maak as DA-lid vir wyk 4.
"Ons kan ons nie elke keer verskonings uitdink oor die opknapping van sportterreine nie, dienslewering is belangrik. Ons kan nie net beloftes maak nie – ons moet dóén," het Jaftha gesê.
Vir Marais is sport 'n dissipline wat 'n gemeenskap help vorm.
Maar dit beteken ook dat inwoners eienaarskap van geriewe moet neem." Dit is die benadering van byvoorbeeld die Siya Kolisi-fonds vir sportontwikkeling, hulle kyk of die gemeenskap sy deel doen om in stand te hou en te bewaar."
Volgens Jacquet het Marais, sedert haar aanstelling as minister, baie gedoen vir sportontwikkeling en die bou en opknap van sportgeriewe in die provinsie sowel as in Prins Albert.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'