Gallery
TUINROETE | KAROO NUUS - Nieteenstaande die uitdagings van Covid-19, het die George-oumotorskou die afgelope naweek uitstekend afgeloop en al 8 000 kaartjies vir die vier tydgleuwe (2 000 per tydgleuf) is uitverkoop.
Die skou is vanjaar vir die 25ste keer aangebied en tydens die silwerjubileum-mylpaal is 2 000 enjins van 'n ongelooflike verskeidenheid ten toon gestel, insluitende losstaande enjins en modelmotors.
Daar was sowat 950 voertuie van voor 1975.
FOTOGALERY : Ou motorskou prag 2022
Onder diegene wat Saterdag se eerste groep skougangers verwelkom het, was Waldo en René Scribante van George-oumotorskou se voorste vennote, Scribs Benzeum, waar verskeie sosiale geleenthede die skounaweek voorafgegaan het.
Een van die byeenkomste wat by hierdie unieke lokaal aangebied is, was 'n spitbraai vir deelnemers aan die Zesto's Café Vet-toer, wat reeds vroeër die maand hul Kalkbaai-kollegas in die Kaap ontmoet het vir 'n onvergeetlike oumotorreis.
Dié span het ook Saterdag inwoners van die Karoo met hul pragmotors verras en uit Calitzdorp oor die Robinsonpas na George gery. Phillip Kushke, organiseerder van die Zetso Café Vet-toer, het aan Oudtshoorn Courant vertel dat dit hulle 22ste toer is en elke keer 'n dorp in die Karoo soek om te oornag voor hy pad vat na die oumotorskou.
Motors van die Zetso Café Vet-toer het die Karoo bederf op pad na die oumotorskou. Foto : Liezl van Niekerk
Volgens hom het hulle verlede week meer as 1 000 km met die pragmotors gery. Hulle het verlede week uit George na Kaapstad vertrek en vandaar weer terug deur die Karoo.
Kushke vertel dat hulle in 2008 die Swartbergpas aangedurf het en dat die voertuie met gemak oor die pas kon ry. Slegs een voertuig het bo-op die pas by die uitkykpunt gebreek.
Saam met Scribs Benzeum as premier-vennoot, is die sukses van GOMS 2022 ook te danke aan ondersteunende vennote, Protea Hotel by Marriott King George, SAB, ClickOnIt, George-munisipaliteit en George Herald. Uitstallings van skaalmodelle tydens die skou het ook aandag getrek en versamelaars kon ook ietsie koop vir hul versamelings.
As 'n voertuig kon praat, sou 'n Model S Ford van 1907, beslis kon sê sy is die oudste van almal op die skou. Dat daar niks met die voertuig verkeerd is nie, het duidelik geblyk toe die Ford trots en fier aan 'n verbyrit deelgeneem het.
George-burgemeester Leon van Wyk het tydens die opening van die skou gesê dit is een van die belangrikste naweke in George en besoekers kom van al die provinsies. Gert van Niekerk, onderburgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, wat die skou Sondag besoek het, het gesê hy sien uit na meer sulke geleenthede. Die skou lok baie mense en as George daarby baat, baat die streek ook.
Kobus Harris, wat betrokke was by die eerste skou in 1997, het gesê destyds was daar tussen 80-100 motors.
Lees : Old car show takes George by storm
Verwante artikels:
Mense loop Saterdag tussen die uitstallings rond. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'