DE RUST NUUS - "Ek voel of dit my kan breek."
So beskryf Dawid Avontuur, die pa van twee klein dogtertjies wat op 12 April saam met hul ouma en hul niggie in 'n brand dood is, hoe dié gebeure sedert verlede Vrydag hulle beïnvloed het.
Hoewel die polisie nog nie die identiteit van die slagoffers bekend kon maak nie, omdat daar nog op DNS-uitslae gewag word, het Avontuur hulle as Suzaan Tities (10), Nicole Tities (4), sy dogters, sy skoonma Bettie Tities (73) en sy neef se dogter Chloe Titus (4) geïdentifiseer.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die De Rust-polisie nog die omstandighede rondom hul dood.
Die woning waarin Bettie Tities en haar kleinkinders oorlede is, is in puin gelê.
Foto's verskaf
"Die brand het ongeveer 04:25 uitgebreek. Beskikbare verslae dui daarop dat nooddienste in kennis gestel is van 'n opslaanhut wat aan die brand was. Met hul aankoms het die polisie die liggame van vier slagoffers onder die puin gevind. Daar word vermoed dat die slagoffers in die opslaanhut geslaap het toe dit begin brand het. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen."
Delina Tities, Bettie se dogter, was te geskok om met die koerant oor die voorval te gesels. Avontuur het gesê dat die voorval 'n massiewe tragedie is wat hom en sy familie getref het.Bettie TitiesAvontuur vertel Delina se ander twee dogters, Beoline en Nicoline Tities, was saam met Suzaan, Nicole, Bettie en Chloe in die huis toe dit begin brand, maar dat Beoline en Nicoline wakker geword het en van die vlammehel kon ontsnap.
"Ek en my vrou en ons baba, Devinesia, het in die geboude huis geslaap. Dit is iets vreeslik. Ek het in my slaap gehoor mense skree buite, maar ek het gedink dit is 'n slang. Toe ek buite kom toe sien ek die vlamme by die deur. Ek en my broer het probeer om in te gaan om hulle te help, maar die gaskan het ontplof en toe brand dit nog erger. Ons kon niks doen nie."
Noël de Bruin, De Rust Primêr se skoolhoof, waar Suzanne 'n leerder was, sê die hele gemeenskap is geskok in wat gebeur het.
Suzaan Tities
"Ek het by ons wyksraadslid van die tragedie verneem. Die voorval het definitief 'n impak op ons leerders en opvoeders. Haar klasmaats is baie hartseer. Hulle het my vertel dat sy altyd 'n plesierige en vrolike dogtertjie in die klas was. Haar klasonderwyser, Jessica Bruintjies, is net so hartseer oor die voorval."
Die skool het ter nagedagtenis aan Suzaan 'n kersie met haar foto in die skool se voorportaal neergesit sodat maatjies vir haar briefies kan los.
Jan van der Ross, De Rust se wyksraadslid sê dat hy kort na die brand van die voorval gehoor het.
"As voormalige onderwyser en 'n ouer wat kinders van dieselfde ouderdom het, het dit vir my gevoel my hart ruk uit my borskas uit. Dit is vreeslik om te dink waardeur hulle moes gaan."
Volgens hom het die familie ook alles in die brand verloor.
"Hoewel hulle nie almal in een huis geslaap het nie, was al hul besittings, huisraad, klere, als in die opslaanhut. Die kinders se skoolklere is ook tot niet. Ons probeer nog die familie help," het hy gesê.
Finale begrafnisreëlings kan eers getref word wanneer die polisie die ondersoek voltooi het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’