OUDTSHOORN NUUS - Een van Ou-Bridgton, die 'Oukas', se oudste inwoners, die merkwaardige Mary Witbooi (85), alombekend as Ousie Mare, is Saterdag saam met een van haar kleindogters, Finoline Storm (35), onder blyke van groot belangstelling vanuit die Bridgton United Congregational Church begrawe.
Witbooi het op 18 April na 'n kort siekbed gesterf, 'n dag na haar kleindogter se onverwagse dood.
Eerw. Donald Sweetland het die familie na aanleiding van Psalm 90 en Johannes 15:2 getroos. "Die Here het twee lelies uit die gesin kom haal en maak nie onderskeid tussen ouderdomme nie. Kry jou lewe in orde," het hy gesê.
Witbooi is as die matriarg van haar familie beskryf.
Sy was 'n staatmaker in die Bridgton United Congregational Church waar sy haar plek behoorlik volgestaan het as leier van die kerkkoor, en lid van die vrouevereniging en die Independent Order of True Templars (IOTT).
'n Familievriend, Beatrice Avontuur, het Witbooi in haar huldeblyk beskryf as iemand wat verskriklik lief was vir haar kinders en vir elke kleinkind 'n troetelnaam gehad het.
"Ousie Mare was 'n baie besonderse mens. Godsdiens het 'n geweldige rol in haar lewe gespeel en 'n mens kan op jou vingers tel die tye dat sy nie in die kerk was nie."
Finoline Storm
Volgens Leslie Links, sal hy Finolene onthou vir haar lewenslustigheid, opregtheid. "Noline het geleef vir haar seun vir wie sy alles opgeoffer het en het haar rol as ma met grasie en krag vervul," het Links gesê.
Witbooi laat elf kinders, 24 kleinkinders en sewe agterkleinkinders agter en Storm word oorleef deur een seun, haar ouers, en twee broers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’