Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Ouers van Bambino Voorsorg, 'n klein plaasskooltjie op Nelsrivier tussen De Rust en Dysselsdorp, het onlangs self ingespring en materiaal gekoop om die geboutjie waarin die skool tans is te probeer reg maak.
Volgens Mina Witbooi, die skoolhoof, het sy die skool 23 jaar gelede gestig om die kinders van die Nelsrivier-gebied 'n geleentheid tot opvoeding te gee.
FOTOGALERY: Ouers probeer Bambino Voorsorg red
Die gebou is aan hulle geskenk en is reeds oor die 50 jaar oud.
Die skool het tans 47 leerders tussen die ouderdom van twee en ses jaar oud. Sy handhaaf ook 'n nasorg vir leerders vanaf sewe tot 16 jaar oud.
"Ons moes so 'n week of wat gelede die ouers vra om leerders by die huis te hou omdat ons bang is dat die skool se een muur op die kinders kan val."
Sy sê die gebou is op 'n wal en is die fondasie weens erosie besig om mee te gee.
"Die mure het diep krake en die plafon is ook nie meer stabiel nie. Om die kinders onbepaald by die huis te hou is ook nie 'n oplossing nie. Meeste van die skool se ouers is werkloos en kry net Sassa-toelaes, maar hulle het met die bietjie wat hulle wel kry, geld bymekaar gesit en die sement en ander materiale gekoop om die gebou te probeer herstel. Die ouers het ook self die werk gedoen."
Witbooi sê dat hierdie ongelukkig nie 'n langtermyn oplossing is nie.
Volgens haar is die skool wel by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) geregistreer, maar kry hulle net 'n toelaag vir salarisse en die kosbank. Omdat die gebou nie aan die WKOD behoort nie, kan hulle nie met die herstel van die gebou help nie. Dit is deur die WKOD bevestig.
Witbooi sê sy wil nie graag die skool sluit nie, omdat die skool so baie vir die gemeenskap beteken.
"Uit ons toelaag wat ons kry kon ons 'n studente-onderwyser ook aanstel. Ons het 'n kombuis-tannie wat elke dag vir die kinders kos maak en iemand wat met die tuin help. Ons het ook nog een permanente juffrou. Ons het 'n lappie grond by 'n boer gekry, met water, en ons het ons eie groentetuin begin. Ons groei kool, pampoen, boontjies, skorsies, uie, wortels en tamaties en gebruik dit in die kombuis. Verlede jaar het ons so 'n goeie oes gehad dat ons van die groente vir 'n ekstra inkomste vir die skool kon verkoop."
Witbooi sê sy kon ook daarin slaag om aansoek te doen vir van die ouers as CPWP-werkers. Volgens haar het sy groot drome vir die skool.
"Langtermyn sal ek graag 'n rekenaarkamer ook wil aanbou. Die nasorg-leerders moet gereeld navorsing doen vir take, maar daarvoor moet hulle of De Rust of Oudtshoorn toe gaan, omdat meeste van hulle nie selfone of data het nie. As hulle hier kom gebruik hulle maar my foon vir navorsing."
Witbooi sê vir haar het dit nog nooit oor haarself gegaan nie, maar oor die kinders.
"Toe ek gaan studeer het, het ek nie gegaan om myself slim te maak nie. Ek wou kinders slim maak. Ek wil kinders geleenthede kan gee om hulself te verbeter. Ekself kon nooit skool klaar maak nie, en voor ek op onderwys besluit het moes ek eers deur 'n kollege my oorbrugging doen sodat ek vir onderwys kon aansoek doen. Ek wil hê kinders moet weet dat hulle enigiets kan doen ten spyte van hul omstandighede."
Vir meer inligting kontak Witbooi by 063 6612487.
Die skoolgebou is deur leerders van die skool geverf.
Mina Witbooi, die skoolhoof, wys die diep krake in die muur. Foto’s: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’