OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudverpleegster van die Mediclinic Klein-Karoo in Oudtshoorn, wat aan poging tot moord skuldig bevind is, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir ses jaar tronk toe gestuur.
Die 62-jarige Christina Boshoff het in 'n pleitverduideliking erken dat sy die aand van 25 Augustus 2021 'n 18-jarige vroulike pasiënt met 'n skerp voorwerp in die gesig en been gesteek het.
Volgens haar het sy aan depressie gely en die dag saam met haar medikasie twee bottels bier uitgedrink.
Sy kon daarna niks onthou wat gebeur het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir direkte tronkstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis is vir die misdryf waaraan Boshoff skuldig bevind is.
Haar regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof versoek om 'n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) te oorweeg aangesien die beskuldigde 'n eerste oortreder is en ook nie meer jonk is nie. Sy het ook skuldig gepleit.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat Boshoff aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is en die klaer vir die res van haar lewe met die letsel aan haar gesig moet loop. Sy het haar optrede beplan deur haar eers te vermom om toegang tot haar slagoffer te kry.
Sy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’