KLEIN-KAROO NUUS - Inwoners van Oudtshoorn en omliggende dorpe kan in Januarie hulle plekke voor die televisie inneem om meer oor bekende en minder bekende mense van die streek te leer. Die geselsprogram, Ommighellie, begin Vrydag 7 Januarie om 19:30 op KykNET & Kie, DSTV kanaal 145.
'n Filmspan het sowat 'n maand gelede meer as 20 interessante karakters in die Klein-Karoo besoek.
Die bekende musikant en televisie-aanbieder, Fraser Barry, het onderhoude met hulle gevoer. Ommighellie handel oor verskeie mense se belewenisse, stories en verhale.
Die vervaardigers sê: "Ons delf diep om die beste storievertellers, steunpilare en hartsmense in ons gemeenskap te vind. Die wat voorheen dalk nie die kans gehad het om hul stories te vertel nie. Kom reis saam met ons om die Klein-Karoo se ongeslypte diamante te vind en deur hulle unieke, aanloklike storievertolking ingetrek te word."
Die reeks bestaan uit 13 episodes wat weekliks vanaf Vrydag 7 Januarie om 19:30 uitgesaai word.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'