Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Hoërskole en laerskole van Oudtshoorn was vanoggend slaggereed om die matrieks en graad 7-leerders te ontvang.
Die Oudtshoorn Courant se verslagspan was by van die skole om te kyk hoe hulle die nuwe regulasies toepas en hoe leerders in skole geakkommodeer word.
Skole het skoolsale en altenatiewe lokale ingerig sodat leerders en onderwysers saam slegs 50 in die klaskamers is en sodat almal 'n veilige afstand kan handhaaf. Voor skool begin word leerders se temperature gemeet en moet hulle 'n lys vrae antwoord voordat hulle die skoolterrein kan ingaan. Onderwysers en leerders is met gesigskerms en maskers toegerus.
Die onderwysers sê hulle is opgewonde om die skooljaar met die leerders voort te sit.
Fotogalery: Matrieks en graad 7-leerders terug op skool
Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium sê Gimmies is honderd persent gereed om voort te gaan soos die regulasies bepaal.
"Ons is bevoorreg genoeg om genoeg spasie te hê om die leerders te akkomodeer en ons weer ons leerders is ewe opgewonde om met hope selfdissipline te begin."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens hom is daar 'n paar eerstes wat almal nou aan gewoond moet raak.
"Daar sal byvoorbeeld glad nie 'n interskole kan wees, en dit sou die matriekklas van 2020 se laaste een gewees het. Die prysuitdeling sal ook waarskynlik nie kan plaasvind nie en Mnr. en Mej. Gim is afgestel. Dan hang daar natuurlik 'n reuse vraagteken oor die matriekafskeid, maar ons as onderwysers gaan als in ons vermoë doen om die res van die skooljaar vir die leerders so normaal moontlik te hou, dit is natuurlik soos die nuwe regulasies toelaat."
SW Voster, departementshoof van Laerskool Laurus sê hulle is net so opgewonde om die jaar te kan voortgaan.
"Natuurlik gaan dit 'n uitdaging wees om aan die nuwe regulasies gewoond te raak, maar ons voldoen aan elke liewe een van hulle. Ons onderwysers is gereed om weer by die skool klas aan te bied.
"Ons het die vakansie sover moontlik met aanlynklasse met die kinders probeer werk, so dit gaan lekker wees om 'n slag weer persoonlik met hulle te kan werk. Ons is ook reg vir die ander grade om te begin en hulle sal ook, soos die graad 7's vandag, met die nuwe regulasies ontvang word."
Die eerste dag van die tweede kwartaal van 2020!
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'