OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se lug is die skoonste in Afrika volgens 'n internasionale luggehaltedata-verslag van die Switserse tegnologiemaatskappy IQAir wat gister Dinsdag 14 Maart vrygestel is.
Die verslag, wat deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram gesteun word, beoordeel luggehaltedata van moniteringstasies oor meer as 7 300 stede wêreldwyd.
Dit beskou die konsentrasies van fyn deeltjies van 'n lugbesoedeling bekend as PM2.5 as die mees skadelikste. Volgens dié verslag sluit PM2.5 deeltjies van sulfate, nitrate, swart koolstof en ammonium in.
Dit kan geproduseer word uit menslike aktiwiteite soos die verbranding van hout en steenkool, landbouprosesse, industriële aktiwiteite en prosesse, kragopwekking en van voertuigenjins. Natuurlike bronne van PM2.5 is stofstorms, veldbrande en sandstorms.
Langtermynblootstelling aan PM2.5 beïnvloed gesondheid negatief en individue kan respiratoriese siektes soos hartsiektes ly. Dit kan ook geestesgesondheid negatief beïnvloed.
Die myndorp Thabazimbi in Limpopo het die swakste luggehalte in Suid-Afrika, gevolg deur Ekurhuleni in Gauteng.
Thabazimbi het in 2022 verskeie brande ervaar wat konsentrasies lugbesoedeling met 50% gestyg het in vergelyking met 2021.
Algeheel het Suid-Afrika in 2022 die 39ste plek uit 131 lande beklee wat swak luggehalte betref.
Twee ander plekke in Suid-Afrika, Grabouw in die Wes-Kaap en Nieuwoudtville in die Noord-Kaap voldoen ook aan die WGO se riglyne. Oudtshoorn het Nieuwoudtville, wat in 2021 die eerste plek beklee het, onttroon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'