OUDTSHOORN NUUS - Danksy honderde positiewe inwoners en ondersteuners is Oudtshoorn Sondag aangewys as een van drie Wes-Kaapse semifinaliste in Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.
Ons mededingers in die streek is George en Swellendam.
Nou is dit inwoners, vriende, kennisse, KKNK-ondersteuners en almal wat goeie herinneringe van Oudtshoorn het, se kans om Oudtshoorn een van die land se 9 finaliste te maak.
Daar is geleentheid tot Vrydag 6 Maart om 12:00 die middag om vir Oudtshoorn as Wes-Kaapse finalis te stem. Elke persoon mag 30 SMS’e teen R1,50 elk stuur.
Dit is so maklik soos dit. SMS die woord Oudtshoorn na 33157 tussen nou en Vrydagmiddg om 12:00 en verseker dat Oudtshoorn een van die nege finaliste is.
As Oudtshoorn deurdring as ‘n finalis sal dié dorp een van die nege wees wat deur Kwêla besoek word vir ‘n insetsel wat op Kyknet uitgesaai word. Dit op sigself is reeds waardevolle blootstelling vir die juweel van die klein-Karoo.
Sodra die nege landwye finaliste aangewys is sal die publiek vanaf 24 Mei om 18:00 tot om 12:00 op 29 Mei geleentheid kry om vir die land se wendorp te stem. Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se dorp van die jaar aangewys en ontvang
R1-miljoen se bemarking in die vorm van ‘n 45 sekonde advertensie wat verfilm word en op Kyknet uitgesaai word. ‘n Bonus hierby is die KIA Makietie wat op die wendorp aangebied word wat gekenmerk word deur musiek, stalletjies, kos en ‘n hoop vermaak.
Meer inligting is op kykNET se webblad.
Moenie wag nie, belê ‘n paar rand in jou dorp en sms Oudtshoorn sommer nou na 33157.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'